10 Minute Met: Vriendskap tussen drie skole
 

10 Minute Met: Vriendskap tussen drie skole

Mnr. André van Wyk, mnr. Armand Robbertse en mnr. Jaco van der Westhuizen - drie onderwysers van drie verskillende skole. Elkeen met ’n ongelooflike liefde vir kinders en ’n passie vir die sport wat hulle afrig. As hulle langs die sportveld is, is dit as kompeterende afrigters wat elk naels byt in die hoop dat sy span moet wen. Maar na ’n harde dag se wedstryde, om ’n braaivleisvuur, is hulle boesemvriende wie se gesamentlike belangstellings verder strek as net die kinders met wie hulle daagliks werk.

Wanneer hulle die kans kry, braai hulle graag saam, geniet dit om sport te kyk, jag saam en gesels oor die rugbyspanne wat hulle afrig. Al wat hulle aan die stry kry, is hulle verskillende sienings oor provinsiale rugbyspelers, vertel hulle spottend.

As afrigters het hulle ook baie by mekaar geleer. Jaco, wat by Laerskool Staats skoolhou, is die een wat hulle geleer het om kalm en rustig te bly langs die veld.

"En ook om die skeidsregter uit te los; hy is net ’n mens," sê Armand, Laerskool Eureka se sporthoof, met 'n vonkel in die oog.

"André het my die belangrikheid van goeie sportmangees geleer," vertel Jaco.

"En hy het my weer geleer wen is nie alles nie," voeg Armand by.

André, ’n onderwyser by Laerskool Newton, sê  hy het by Armand geleer hoe belangrik dit is dat ’n speler guts moet wys. "Armand het my geleer as jy ’n passie het vir iets jy altyd jou bes moet gee vir daardie passie," sê Jaco.

Glitter gesels met hulle oor hulle beroep as onderwysers en veral as afrigters: 

Watse vakke gee jy en watter spanne rig jy af?


André: Wiskunde, tegnologie en natuurwetenskap. o/11A-rugby en o/13A-krieket.
Armand:
Sporthoof. o/13A-rugby, krieket en hokkie.

Jaco:  Wiskunde. o/9- en o/11-rugby, asook atletiek, krieket en hokkie.

Wat geniet jy die meeste van jou beroep?


André:
Om met kinders te werk en om te sien hoe hulle hul volle potensiaal bereik.
Armand:
’n Kind se glimlag as hy van die rugbyveld af kom, as ek sien ’n kind geniet die sport. Alles gaan daaroor om die sport te geniet.
Jaco:
 Die sport en vakansies waar ek bietjie kwaliteit tyd saam my familie kan spandeer.

Watse uitdagings hou jou beroep in?


André:
Kinders se omstandighede, veral hulle huislike omstandighede. Dit is ’n baie emosionele beroep. Jy is nie net ’n onderwyser nie, jy is ’n ouer, vriend en afrigter. Maar ek sal dit vir niks anders verruil nie.

Armand: Om met kinders te werk, is maklik. Om die ouers gelukkig te hou, is die groot uitdaging.
Jaco:
Dat daar altyd nog iets is om te doen as dit kom by onderwys.

Wat is die belangrikste eienskap wat ’n afrigter moet hê?


André: Jy moet met kinders se harte en koppe kan werk. ’n Kind moet weet dis net so belangrik om op te staan na verloor as wat dit is na ’n wen.
Armand: Jy moet ’n mense-mens wees - menseverhoudings speel ’n groot rol. Nie almal kan met kinders werk nie, veral nie op ’n sportterrein nie. Jy moet ’n liefde hê vir kinders en vir sport
Jaco: In laerskoolsport moet ’n afrigter beslis baie geduld hê.

Hoe motiveer jy jou spelers?


André:
Jy moet ’n kind kan kry om in homself te glo. Met baie selfvertroue kan ’n kind ver kom.
Armand:
Ek leer die kinders dat dit ’n voorreg is om op ’n toer te gaan. En dat hulle die talent wat hulle van hulle Vader af gekry het, moet geniet. Nie almal het die talent om te speel nie - jy moet daardie talent ten volle uitleef tussen die vier lyne. 'Play hard, honor God.'

Jaco: Ek probeer my spelers motiveer deur altyd positief te wees, maak nie saak wat die omstandighede is nie. Daar is altyd iets positief om uit ’n situasie te vat.

Wat het jy oor die jare by die kinders geleer?


André:
Om die klein dingetjies in die lewe te waardeer. En dit sien ek daagliks in my eie twee kinders ook.

Armand: Ek het geweldig baie by die kinders geleer. Ek leer elke dag iets nuuts by hulle. Nie twee kinders is dieselfde nie.
Jaco:
Ek het geleer om meer positief te wees; negatiwiteit help niemand nie. Met ’n negatiewe houding maak jy die mense om jou ook negatief.


Hoe beskryf jy jouself?


André:
Humoristies. Daar is ’n tyd en ’n plek vir alles. Wanneer ek werk, dan werk ek. Maar daar is ’n tyd vir speel ook.

Armand: Baie liefdevol en vriendelik. Positief en energiek.
Jaco:
Baie positief, lief vir sport en die natuur en my familie.


Wat doen jy as nie op die sportveld is of boeke merk nie?


André:
Dit gebeur maar selde, maar as ek die kans kry, spandeer ek graag tyd saam met my vrou en kinders of ek gaan jag saam met my pa en vriende.

Armand: Ek braai graag saam met my vriende of ek ontspan saam met my wonderlike vroulief.
Jaco:  Ek hou daarvan om te oefen. Ek speel graag saam met my kinders en drink koffie saam met my vrou. Gaan skiet as daar kans is of kuier saam met vriende. - Alta van Wyk.

Is jy al 'n lid van ons Facebook?

Read 105 times

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.

booked.net
Watter kompetisie wil jy aan deelneem?