Bederfdag: Opgewonde oor nuwe voorkoms
 

Bederfdag: Opgewonde oor nuwe voorkoms

Tussen ’n voltydse beroep en studies kry Nicole Kennedy min tyd vir haarself. Die Glitter-span het haar met ’n splinternuwe voorkoms bederf.

Jy werk tans by die rekeningafdeling van ’n rekenmeester, maar jy het eintlik eers onderwys studeer. Wat het gebeur?

Ek het deur Unisa studeer en by ’n rekenmeester begin werk om my studies te betaal. Ek het sommer gou besef dat ek my studierigting moet verander. Ek was passievol oor my werk en het besluit om ’n loopbaan met kinders vir een met syfers te verruil. Ek het met my baas, Bennie Burger, gepraat en hy het gesê ek kan as leerling rekenmeester by hulle begin werk. ’n Mens kom eintlik maar eers agter wat ’n werk behels as jy prakties in die beroep staan.

Tog is jy Sondae betrokke by jul kerk se Sondagskool?

Ja, ek is verantwoordelik vir die kleintjies voor skool. Ek geniet dit om naweke vir hulle klas te gee, maar ek wil dit nie voltyds doen nie.

Jy is baie gesinsvas en jou ma speel ook ’n groot rol in jou lewe.

My ma het my geleer dat jy net jouself moet wees. En as sy ’n standpunt oor iets het, hou sy daarby. Sy word dan nie maklik deur ander mense beïnvloed nie en sy is iemand op wie jy kan staatmaak. Ek sal graag ook eendag so ’n tipe mens wil wees.

En werksgewys?

Beslis Bennie. Ek het baie respek vir hom en die manier waarop hy besigheid doen. Ek leer ongelooflik baie by hom. Ek dink elke mens moet ’n mentor in sy lewe hê.

Dink jy dis belangrik om professioneel by die werk te lyk?

Definitief. Ons is in ’n beroep waar jy gereeld met die publiek werk. Ek dink tog dit skep ’n beter indruk as jy professioneel lyk. Ek hou van mooi klere, veral mooi skoene. Ek kyk gereeld op Pinterest vir idees vir kantoordrag. Naweke is dit natuurlik anders. Dan trek ek sommer sportklere aan.

Wat van grimering?

Ek is nie so lief vir grimering nie, maar dra meestal onderlaag en is amper nooit sonder lip ice nie!

Dink jy mense maak 'n te groot ophef van modegiere?

Definitief. Dit gaan oor wat in ’n persoon se binneste aangaan. Selfs die mooiste persoon kan lelik van binne wees. Mense is so geneig om aannames oor ’n persoon op grond van hulle voorkoms te maak. Dit gaan oor meer as dit.

Wat is jou swakpunte?

Steers  se tjips en hulle aarbei-melkskommel! Ek probeer gesond leef en eet, maar kry dit nie altyd reg nie. Ons werk lang ure en ek kom nie altyd by oefen uit nie.

Watter tipe mens is jy?

Ek stres nogal baie maklik en probeer daaraan werk. Ek hou ook niks daarvan om mense teleur te stel nie. Ek kan baie hard op myself wees. Maar ek het baie ambisie en wil graag suksesvol in my loopbaan wees.

Jy is ook baie familievas?

Ja, ek bly nog by my ouers, John en Annelie. Ek het ook ’n kleinsus, Jonica, nou twaalf. Ons is almal baie na aan mekaar en ek hoop dat ek ook eendag so ’n verhouding met my kinders sal hê soos wat ek nou met my ouers het. Ek het ook ’n spesiale vriend in my lewe, Johan. Ons werk saam, so ons sien mekaar darem elke dag.

Tussen jou werk en jou studies kry jy seker nie baie tyd vir jouself nie?

Nee, nie regtig nie. Ek is baie opgewonde oor die make over, en sien uit na Glitter se nuwe voorkoms vir my. ’n Mens kan in ’n groef verval en jou hare op dieselfde manier dra en dieselfde tipe klere aantrek. Soms is dit net nodig om met ’n ander oog na jou voorkoms en klerekas te kyk. – Ilette Coetzer

Baie dankie vir hare en grimering:

- HARE:
- GRIMERING:
- PEDIKUUR:
- NAELS:
- KLEREDRAG EN STILERING: Joe Burger van Foschini, Diamond Pavillion, 053-802-4406
- FOTO’S GENEEM BY:

 

Is jy al 'n lid van ons Facebook?

Read 217 times

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.

booked.net
Watter kompetisie wil jy aan deelneem?