Coffee break: Hou vas aan jou roeping
 

Coffee break: Hou vas aan jou roeping

Samuel Murry sal nou op straat vir jou lyk soos 'n gewone mens, soos een van ons, maar as jy eers sy merkwaardige storie van uithou lees, sal jy besef hy is redelik besonders. Hierdie man is gestuur om vir ons 'n les te leer oor al ons eie drome wat ons onder die bed in ‘n tas gebêre het. Hy het grootgeword in 'n liefdevolle ouerhuis, is getroud met Marlize Murry en het twee pragtige kinders. Hy doen hierdie jaar sy Zuma-jaar as mediese dokter hier in Kimberley. Hierdie is 'n storie van hoe Samuel aangehou het om sy roeping as mediese dokter te volg ten spyte van vele uitdagings.

Die pad van diensjaar tot swot 

Samuel het na skool 'n Diensjaar vir Christus gaan doen, waarna hy graag iets vir mense wou beteken. In daardie stadium was die deure oop om in skole in te gaan, met kinders kampe te hou en iets vir hulle te beteken. In daardie tyd is die mediese rigting in sy hart geopenbaar as 'n manier om langtermyn in die koninkryk iets te doen wat pas by sy belangstellings en gawes.  

Hy het toe aansoek gedoen om medies te swot, maar het nie keuring gekry nie. Samuel het wetenskap gaan swot om keuring te kry sodat hy kon oorgaan na medies in sy tweede jaar, maar dit het toe steeds nie vir hom toelating gegee nie, alhoewel hy baie goeie punte behaal het.  

Op die ou einde het hy besef dat sy wiskunde nie op die keuringstandaard is nie en hy besluit toe om sy wetenskapgraad klaar te maak. Hy het toe steeds nie keuring gekry nie en het daarom vir eers sy roeping opgegee en besluit om onderwys te swot om op so 'n manier iets vir kinders te beteken.  

Samuel het vir twee jaar in Engeland onderwys gegee, maar die Here het toe duidelik en op ontwyfelbare manier vir hom gesê hy moet sy eintlike roeping volg. Hy het toe besluit om terug Suid-Afrika toe te gaan en verder te swot om homself meer keurbaar vir medies te maak. Samuel het sy Bsc Honneurs in fisiologie gaan swot, maar in daardie jaar is niemand van sy groep gekies vir medies nie, omdat daar nie plek was nie. Hy het daarom toe gaan werk by UCT in ‘n navorsingseenheid  wat oor TB navorsing gedoen het.  

In daardie selfde jaar het die dame wat met die keurings werk hom laat weet dat daar 'n mediese afdeling in Namibië oopgegaan het en dat hy sy aansoek aan hulle moet stuur. Hy het toe uiteindelik keuring gekry om medies te swot by die Universiteit van Namibië en het ses jaar daar deurgebring. Intussen het hy reeds sy twee internskapjare op Worcester voltooi en doen hierdie jaar sy Zuma-jaar by Kimberley Diskobolos-militêre basis se siekeboeg.  

Die besef dat hy wil dokter word

'n Biologie-onderwyser het hom aan die idee voorgestel om ‘n dokter te word, maar dit het toe nog nie regtig posgevat nie. Hy het ook altyd in biologie en wetenskap belanggestel. Samuel het op die ou einde besef hy wil ‘n dokter word toe hy 'n hart vir mense, 'n  hart vir sending  en 'n begeerte om 'n impak in die wêreld te maak, ontwikkel het.  Hy het  tot die besef gekom dat hy meer wil doen as vir mense preek of hulle na die Here toe lei; hy wil ook iets doen vir hulle menswees. Hy kan so deur sy passie vir wetenskap en diensbaarheid te kombineer mense se lewe op aarde en lyding help verlig en verbeter.  

 Ondersteuning ten spyte van uitdagings

Sy ouers was sy rots deur die hele avontuur. Hulle het jaar na jaar gesien hoe hy aansoek doen en teleurgestel word, hoe hard hy probeer en hoeveel geld en energie hy aan als spandeer. Samuel prys sy ouers en sê: “Daar was een jaar wat my hart in stukke gelê he  en toe kom my pa na my toe en vra of ek seker is dat dit is wat ek wil doen. Ek het hom duidelik laat verstaan dat dit definitief is wat ek wil doen en van daardie dag af het hulle nie een keer opgehou om my te ondersteun deur hierdie proses nie. Sy vrou het hom ook baie ondersteun deur die swottings en het alleen die kinders grootgemaak deur sy internskapjare.  

Moeilikste vier dinge om jou roeping te volg 

  • Om aan te hou probeer - dis baie moeilik om aan te hou as die hele wêreld rondom jou vir jou nee sê.  
  • Om vas te hou aan dit wat jy glo jou roeping is, om aan te hou glo, om nie dit wat die Here vir jou gesê het te probeer rasionaliseer of in twyfel trek nie. 
  • Om dit op 'n praktiese finansiële praktiese manier te laat werk. 
  • Die tyd wat dit jou gekos het, kry jy nooit weer terug nie. Daar is 'n prys om te betaal in terme van geleenthede, verhoudings en finansieel. Jy moet maar mooi besluit of die kool die sous werd is.  

Passie vir mense ontbrand 

Toe Samuel tot bekering gekom het by 'n CSV-kamp op skool, het hy van daar na skool by 'n diensjaargroep aangesluit. Hulle het die evangelie op 'n manier verduidelik wat diep in sy menswees ingekruip het. Sy hart het van daar af net geweet hy moet betrokke wees by die koninkryk van die Here. “Daardie koninkryk bestaan nie uit dinge of plekke nie, dit bestaan uit mense," sê Samuel. 

Vrese oorwin en aanhou

“Sjoe, dis 'n op en af pad. Oorwin is 'n sterk woord. Daar is kere wat ek nie gewen het nie, maar jy staan maar net weer op en gaan maar weer aan. As jy glo dit is wat jy moet doen, en jy herevalueer dit terwyl jy deur die diepste donker gaan en die antwoord is steeds dieselfde as wat dit was toe jy op die hoogste toppe was, moet jou aksies ook dieselfde bly as wat dit was toe jy op die bergtoppe was. Net omdat dit nie meer lekker is terwyl jy in die dale is nie maak nie iets minder waar as wat dit vantevore was nie, “ verklaar Samuel.  Hy het  daarom net aangehou, en in sy geval het hy vasgehou aan die roeping wat aan hom bevestig is.  

Lekkerste deel van jou werk? 

"As jy regtig iets vir iemand kan beteken. Jy werk met mense terwyl hulle in 'n kwesbare toestand is, wat dan die goeie en slegte in hulle uitbring. So nou en dan kry jy dit reg om vir iemand iets te doen wat hulle nie by 'n ander plek of persoon kan kry nie. As jy dit dan met deernis kan doen, reageer mense met opregte dankbaarheid en jy weet hulle is beter af na hulle jou gesien het." 

Moeilikste deel van jou werk?  

“Mense is nie altyd ontvanklik vir wat jy wil doen nie. Hulle dink hulle weet beter; dokters is korrup of arrogant. Jy sien mense wanneer hulle siek, dronk of afgeleef is en saam met dit het die lewe hulle ook al seergemaak, so dan is hulle nie altyd oop vir wat jy wil doen nie. Dan moet maar net geduldig wees en aangaan,” sê Samuel. 

Hoe voel dit om nou uiteindelik jou droom te kon bereik het en mense te begin help?

“Ek is baie bly dat ek uitgekom het waar ek nou is. Dit is nie noodwendig 'n maklike pad nie en ook nie so 'n maklike werk nie, maar die alternatief is ondenkbaar. Ek is bly dat ek op een of ander manier die boodskap gekry het dat dit is waar ek moet wees. In terme van die mense wat ek al kon help - wanneer jy in die stelsel is, voel dit nie altyd of jy so baie mense help nie. Jy is maar 'n rat in 'n groot masjien, maar so nou en dan is dit absolute magic as jy so nou en dan op die regte tyd en plek is. Dan besef jy hoekom jy doen wat jy doen."  - Dupie Janse van Rensburg

Is jy al 'n lid van ons Facebook?

Read 172 times

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.

booked.net
Watter kompetisie wil jy aan deelneem?