Fokus Op: 'n Nuwe lewe vir my ma
 

Fokus Op: 'n Nuwe lewe vir my ma

Wanneer iemand in nood is, is daar maniere om hulle uit te help. Soms met geld of tyd of ’n guns. Maar om vir iemand anders die geskenk van lewe te gee, is merkwaardig. En wanneer dit nog boonop jou eie ma is, kry dit ’n ingypende betekenis. Soos in die geval van Desirée Brockbank (55) wie se dogter, Megan (27), vir haar ’n hele nuwe gesonde lewe in die vorm van ’n nier gegee het.
Gesondheidsprobleme

Desirée vertel sy glo haar gesondheidsprobleme het begin toe haar seun sowat vier en ’n half jaar gelede in ’n motorfietsongeluk was. Hy was toe 26. Hy het baie seergekry en was 14 dae lank in ’n koma. Hy het sy nek gebreek en het ook breinskade opgedoen. Gelukkig het hy die volle gebruik van sy bene herwin, hoewel hy met ’n rolstoel uit die hospitaal ontslaan is. “Sy breinskade het ook al hoe meer begin herstel. Aanvanklik was hy weer soos 'n vyfjarige kind, maar dit het alles baie beter geword.” Sy sê daar is steeds gevolge van sy ongeluk, maar hulle is baie dankbaar hy lewe. “Daardie tyd het baie spanning in my lewe veroorsaak. Ek is seker dit het bygedra tot my nierprobleme.

Nierversaking

Nie lank na dié ongeluk nie het Desirée begin sleg voel. Sy was baie moeg en haar bene het erg gepyn. Haar huisdokter, dr. Clive Holroyd, het besluit om toetse op haar niere te laat doen. Die uitslae het gewys daar is probleme. Sy is toe verwys na dr. Gerrit Rossouw, Bloemfonteinse nefroloog. Hier is sy met fase vier kroniese nierversaking gediagnoseer.
“Die oorsaak daarvan kon nie gevind word nie. Aanvanklik kon ek dit beheer met medikasie en moes elke ses maande vir ’n ondersoek gaan.

Slegte nuus

In Oktober verlede jaar het Desirée weer baie sleg begin voel. Sy is terug na dr. Rossouw en hy het nie vir haar goeie nuus gehad nie. “My nierversaking was baie erg. Onomkeerbaar. Die enigste uitweg nou, voor dialise, was dat ek ’n nieroorplanting moes kry.

Aan die begin van Januarie is sy weer terug dokter toe. Megan, wat saam met haar ma by die ondersoek was, het onmiddellik vir hom gevra of sy haar nier aan haar ma kan skenk. “Alles het daarna baie vinnig gebeur. Mediese personeel het ons kom haal en toetse op ons begin doen om te kyk of Megan ’n geskikte skenker kon wees.” Daar is ook baie bloedtoetse gedoen en die proses om goedkeuring van die mediese fonds te kry, het begin. 

“Die goeie nuus was dat Megan ’n geskikte skenker was. Die slegte nuus was dat dit toe kritiek was vir my om die oorplanting te kry. Ek was baie siek en my kans om te oorleef sonder ’n nuwe nier het skrikwekkend min geword.” Die bal is aan die rol gesit vir die oorplanting om so gou as moontlik te gebeur.

D-dag!

Op Vrydag 18 Januarie is Desirée en Megan in die Universitas-hospitaal in Bloemfontein opgeneem. Die oorplanting het die volgende dag plaasgevind. Megan is eerste om 09:00 die oggend geopereer en daarna haar ma om 13:00. “Altwee operasies het seepglad verloop. My liggaam het Megan se nier onmiddellik as haar eie aanvaar, asof dit van altyd af maar net my eie nier was. Almal was verstom oor hoe goed my liggaam reageer het.” Hulle is altwee ses dae na die operasies ontslaan. Gewoonlik bly die ontvanger baie langer in die hospitaal, maar Desirée was perdfris en gesond, reg vir haar nuwe lewe met haar nuwe nier. Die dokters en mediese personeel het na hulle as die “goue oorplanting” verwys.

Die geskenk van lewe

Desirée sê die woord “dankie” kan nie naastenby haar gevoel en dankbaarheid teenoor haar dogter se onbaatsugtige daad verwoord nie. “Sy het vir my ’n nuwe kans op ’n lewe gegee. Ek sou sonder daardie nier gesterf het. Die enigste manier hoe ek vir haar kan wys hoe dankbaar ek is, is deur gesond te lewe," sê sy. Om die geskenk met altwee hande te neem en die lewe aan te gryp.

Sy vertel toe Megan 10 maande oud was, het hulle in Daniëlskuil gewoon. Sy het buite gespeel toe sy in ’n uiterse seldsame verskynsel deur ’n boomslang gepik is. Megan was maar die derde bevestigde geval in 20 jaar wat deur ’n boomslang gepik is. Sy is in die Kimberley-hospitaal opgeneem en haar lewe is daar gered.

“Ek glo die Here het haar destyds gered sodat sy vir my die nier kon skenk.”

Haar dogter is haar heldin. En die Here se teenwoordigheid, veral in die eerste paar dae na die operasie, het haar deur alles gedra.

Dit was al opsie

Vir Megan was dit nooit eers ’n keuse nie. “Ek is verbaas dat mense dit vreemd vind dat ek dit vir my ma gedoen het. Ek het nie eers twee keer gedink nie. Ek is ook ’n ma. Ek verstaan waaroor die lewe gaan. Familie is alles.”

Sy dra so gereeld as wat sy kan ’n T-hemp met die boodskap: Ek is ’n orgaanskenker.” Sy hoop om die boodskap van orgaanskenkers, en veral lewende orgaanskenkers, te versprei. “Jy kan iemand se lewe red, selfs al lewe jy nog, so hoekom sal jy dit nie doen nie?” -Karen van der Berg
 

Is jy al 'n lid van ons Facebook?

Read 133 times

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.

booked.net
Watter kompetisie wil jy aan deelneem?