Leefstyl: Pa, doen dít vir jou dogter
 

Leefstyl: Pa, doen dít vir jou dogter

Die dag wat ’n man die pa van ’n dogtertjie word, gebeur daar dadelik ’n klompie goed met sy hart. Hy wil ’n geweer aanskaf en sy prinses teen almal beskerm. Daar word ook gesê ’n pa is die eerste man met wie dogters ooit ’n verhouding het. Sy leer by jóú die heel meeste van mans en hul wêreld, en ook wat vir mans belangrik en mooi is. ’n Pa se verhouding met sy dogter is baie belangrik en ’n betrokke pa kan sy dogter se toekoms help vorm gee. Daarom meen al hoe meer kundiges dit is baie belangrik om aan dié verhouding te werk.
Sy is my alles

Wimpie Coetzee (44), ’n motorwerktuigkundige, sê die dag wat hy uitgevind het hy kry ’n dogtertjie, sal vir ewig in sy hart gebêre wees.
“Ek was so bly,” sê hy oor Nadine, wat nou reeds 12 jaar oud is. Sy is ’n leerling aan Elizabeth Conradie-skool. Hy en sy vrou, Celeste, het ook ’n seun, Ian (17).
Hy sê baie mense sal saamstem dit is ’n voorreg om ’n seun en ’n dogter te hê. “Hoewel ek dink geen ouers sal ooit spyt wees omdat hulle of seuns of dogters het nie, is ek regtig bly dat ek ’n dogter kan hê.”
Wimpie sê hy is ook dankbaar dat hy in dié tyd kinders grootmaak. “Daar word baie klem op betrokkenheid van ouers geplaas. Veral pa’s moet net so betrokke wees. Ek het ook toe my kinders nog babas was, doeke geruil, gehelp met badtyd en vir hulle in die nag opgestaan. Ek dink dit is ’n groot voorreg om so betrokke te kan wees. Dit help beslis dat ’n mens reeds van vroeg af ’n goeie verhouding met hulle bou.”
Hy glo ook daaraan om tyd vir elkeen vir sy kinders te maak en neem dit baie ernstig op om tyd saam met elkeen deur te bring. Hulle gesin gaan eet graag saam uit en afsonderlik doen hy moeite om tyd saam met sy dogter deur te bring.
“Ek glo ook dat pa’s die voorbeeld moet stel vir toekomstige verhoudings waarin hulle dogters eendag mag wees. Daarom probeer ek regtig vir haar wys wat goeie maniere is  en hoe ’n man ’n vrou behoort te behandel. Sy moet ook weet dat sy perfek is net soos wat sy is en nie vir iemand hoef te verander nie.”
Hy sê ouerskap het sy lewe ingrypend verander. “Dit is ’n voorreg en daar is geen woorde wat die hoeveelheid liefde wat ek vir hulle het, kan beskryf nie. Dit is ’n tipe liefde en omgee wat ’n mens eers verstaan wanneer jy ’n ouer word.”

Doen dít saam met jou dogter

’n Amerikaanse lewensafrigter, Justin Ricklefs, het ’n klompie praktiese wenke vir pa’s oor hulle dogters neergeskryf, wat sedertdien soos ’n veldbrand versprei het.

-Jou dogter wil geliefd voel. Meer as wat sy wil hê jy moet vir haar goed koop, of vir haar dinge leer, wil sy weet jy is lief vir haar. Niemand anders op aarde kan die rol van pa vertolk nie.
-Jy het ’n invloed op haar toekomstige verhoudings: Die soort man wat jy is, het ’n direkte impak op wie sy eendag gaan kies om mee te trou. As sy klein is, gaan sy graag met jou wil trou, en daar kan nie ’n groter kompliment wees nie.
-Luister na haar musiek. Dit maak haar gelukkig, en dit sal haar gelukkig maak as jy dit ook geniet.
-Sy kyk hoe jy haar ma behandel: Een van die beste dinge wat jy vir haar kan doen, is om haar ma met respek en deernis te behandel. Maak van jou huwelik ’n voorbeeld
-Moenie minder betrokke raak wanneer sy grootword nie. Moenie ’n toeskouer word wanneer jou dogter grootword nie. Vind uit wat vir haar belangrik is, al beteken dit jy moet na ’n Justin Bieber-konsert toe gaan.
-Leer haar dat gesondheid en oefening belangrik is en dat daar geen rede is waarom sy nie ook opstote kan doen nie.
-Maak herinneringe bymekaar. Begin instellings in die familie soos fliekaande, neem haar uit op ’n afspraak en gaan fliek saam met haar.
-Leer haar dat alles nie oor haarself gaan nie en dat daar nog mense in haar lewe is wat saak maak. Doen dit deur jou voorbeeld.
-Daag by haar konserte en gebeurtenisse op. Moenie net daar wees nie, wees ook deel daarvan en raak opgewonde saam met haar daaroor. Die feit dat jy daar is, beteken nie noodwendig jy is teenwoordig nie. Sit neer jou foon wanneer jy by die huis kom, bring tyd saam met haar deur.
-Wys haar die sagte kant van mans deur te leer om haar hare vas te maak en haar naels te verf. Laat toe dat sy dit met jou ook doen.
-Haar hart is mooier as haar voorkoms en raai wat? Dit is jou werk as ’n pa om dit vir haar te leer. Herinner haar ’n miljoen keer daaraan dat sy ’n mooi hart het en dat iemand met ’n mooi hart baie ver kom in die lewe.
-Vergewe haar, sy gaan jou teleurstel en foute maak. Lei haar in jou voorbeeld. Geniet haar, want een van die dae moet jy haar aan haar man afgee. - Karen van der Berg
Bykomende bron: www. Justinrecklefs.com
 
 
 
 
 
 
 
 
 

Is jy al 'n lid van ons Facebook?

Read 100 times

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.

booked.net
Watter kompetisie wil jy aan deelneem?