Leser: Van rebel tot rolmodel
 

Leser: Van rebel tot rolmodel

James Spicer se lewe was nie altyd maklik nie. Hy het nooit matriek klaargemaak nie, maar het met harde werk en deursettingsvermoë bo uitgekom.

Jy was nie baie lief vir die skoolbanke nie?

Nee, glad nie. Ek is vroeg uit die skool en het onmiddellik begin werk. My pa was maar streng en ek kon nie net by die huis bly nie, al was ek my ma se bederfkind! Ek het in die begin baie tussen werke rondgeval. Ek het destyds as stoorman vir R900 begin en het my stadig opgewerk.

Maar dit was nie ’n maklike pad nie?

Nee, ek het maar hard grootgeword. My ouers was streng, maar goeie mense. Ek het besef dat dit nie maklik sou wees om ’n goeie werk sonder matriek te kry nie. Maar ek is ’n positiewe mens en het besef ek kon nie toelaat dat my omstandighede my onderkry nie.

Krieket is vandag nog steeds een van jou passies. Jy wou destyds in Engeland vir Suid-Afrika gaan speel?

Ja, dit het ongelukkig nie uitgewerk nie. Die krieketunie het my destyds oorgestuur, maar daar was probleme met my visum en hulle het my dadelik terug Suid-Afrika toe gestuur. Ek was teleurgesteld, maar my pa het my laat besef as jy nie professioneel speel nie, moet jy iets anders doen. Ek het talent gehad, maar nie genoeg om dit my loopbaan te maak nie. Ek het my op my werk begin toespits.

Jy het deur een van jou kliënte in die boubedryf ’n geleentheid gekry om ’n karwassery te bestuur.

Dit was regtig ’n geleentheid van Bo. Toe ek daar as bestuurder begin het, het ons skaars sestien karre per dag gedoen. Dit het vinnig gegroei tot meer as veertig voertuie per dag. Ons werkers het ook in dié tyd amper verdubbel. Die eienaar, Henk Blauw, het iets in my raakgesien. Dis wonderlik wat iemand se vertroue in jou wakker maak. Hy het van die begin af net in my geglo. Vandag is ek betrokke by een van sy ander besighede.

Een van die steunpilare in jou lewe is jou vrou, Jean-Marie.

Vir seker. Sy het nog altyd in my geglo. Ek was destyds maar ’n rowwe ou en het nie baie oor die toekoms gedink nie. Jean-Marie het alles verander. Sy het my laat besef jou naam is belangrik. Dit staan vir iets. Sy het my ook baie selfvertroue gegee en my opgehef. Ek het nou iets om voor te werk en te leef. Ons het twee dogters, Milay en Blaklyn. Hulle is alles in my lewe. Ek wil graag ’n rolmodel en goeie pa vir hulle wees.

Wat sal jy graag vir jou dogters wil leer?

Wees positief en glo in jouself. Jy kan nêrens in die lewe kom as jy nie selfvertroue het nie. Ek het gesien hoe dit my lewe verander het toe ander mense in my glo. Ek dink dis een van die belangrikste lesse wat jy jou kind kan leer.

Jou pa was jou rolmodel, al was hy so streng.

Ek dink hy moes maar wees. Ek was baie rebels op skool, maar ek het altyd geweet my pa is lief vir my. Hy was ’n ongelooflike man. Tough, maar reguit. Niemand kon hom onderkry nie. What you see is what you get. Daar was nie tierlantyntjies nie. En hy was baie hardwerkend, hy sou enigiets vir sy gesin doen. Ek was toevallig die dag by die huis toe hy ’n beroerte gekry het. My ma het my kombuis toe geroep en hy is in my arms oorlede. Dit is iets wat ek nooit sal vergeet nie.

Baie mense blameer hulle ouers as die lewe nie uitwerk soos wat hulle glo dit moet nie.

Ek glo ons elkeen maak ons eie foute. Jy moet verantwoordelikheid vir jou eie lewe neem. En as daar van jou ouers se optrede is waarvan jy nie hou nie, moet jy seker maak jy herhaal nie hulle foute nie. Wees ’n beter en sterker mens as hulle. Na my pa se dood het ek weer eens besef die lewe is kort. Maak die meeste van dit wat jy het en waardeer die mense in jou lewe. – Ilette Coetzer

Is jy al 'n lid van ons Facebook?

Read 1336 times

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.

booked.net
Watter kompetisie wil jy aan deelneem?