Muishond: Trotse jaar
 

Muishond: Trotse jaar

Vir Muishond Malan was 2018 ’n jaar om op trots te wees.

Persoonlik was die jaar een om te onthou. Wonderlike dinge het in die uwe se privaatlewe gebeur. Die uwe het ’n metamorfose ondergaan en is nou so energiek soos ’n pas verkleurde herfsblaar. MH het die Betsie Verwoerd-toekenning vir Afrikaanse literatuur ontvang,  die Ingrid Jonker-prys vir kakpraat en Glitter se absolute gunsteling: die spesiale eerbewys van die SA Akademie vir verdraaide werke. Die uwe wil julle getroue lesers bedank. Die middernag nooi vir drankies. Die skelm boodskappies. Die anonieme fluister in die oor. Die presente en die eerbewyse. Alles moet vasgepen word. Weet dat die uwe deur julle geïnspireer word, julle die rede is dat MH bestaan. Die uwe koester elke appel wat na hom gegooi word en briefie wat by die werk afgelewer word.

Doen ander mense se werk

Terug by die dinge wat werklik saak maak. Soos die meeste van julle seker weet, is ons geliefde ou koerantjie druk besig om “ander” mense se werk vir hulle te doen. Natuurlik sal die ringkoppe dit nie so oordra nie, maar pappa Muishond sê ons mag nie meer perdemis vye noem nie. Meer gate in ons paaie is in die laaste maand gestop as by enige tandarts en meer strate het hulle identiteit teruggekry as enige vryheidsvegter wat deel was van die struggle. Al wat nou oorbly, is om die dorp skoon te maak, want dié is steeds vuiler as ’n hoërskoollaaitie se gedagtes.

Laf oud word

Vuisboek het mos die manier om mense aan die praat te kry en selfs dinge te laat doen wat jy as mens of dier nie normaalweg sal doen nie. Verskoon dan nou die uwe dat hy juis dié forum gebruik om ’n paar tuinhekkies hier uit te sonder. Ouma MH het altyd gesê: “Wanneer jy laf oud word, gril almal”. Hier verwys die uwe na die tendens wat die vroue in ons ou dorpie het om nie daagliks nie, maar uurliks, hulleself op Vuisboek, Minstegram, Sletchat en Tender te adverteer. Die vroutjies het gewoonlik meer selfvertroue as ’n Zim-dollar. Elke dag ’n ander voorkoms: nuwe hare, nuwe klere, nuwe ligging. Net André Stander het sy voorkoms al meer verander as dié spesie. Die uwe het homself al vier keer aan van hulle voorgestel. Ongelukkig weet ons almal Vuisboek het die vermoë om die realiteit in iets onrealisties te verander. Amper idillies. Diegene is altyd op ’n ander plek. Eers Hoopstad, daarna Grahamstad, voor hulle die hertogin van Sussex vinnig ontmoet vir ’n Frisco in Tietiesbaai – die manne se gunstelingbestemming. Die een se man lyk op sigself soos ’n Marsman met koors en ruik moontlik soos stokoud leersitplekke. Die mans wat die ringe aan die vingers sit, feature nie in die foto's nie. Netnou steel hy meer as die kollig. Dié mammas is ook baie geseënd! Verbeel jou jy staan elke oggend op met ’n vars gespykerde voorkoms. Vandag lang blonde hare, môre kort swart hare, kompleet soos Kate Perry se boetie. Die lippies word ook so gepruim, dit hipnotiseer jou amper om met ’n hoender se hol ’n sinvolle gesprek te voer. Dan sit sy terug en wag vir die comments. “Te pragtig!” “So mooi soos altyd!” “Mooi vriendin, ek mis jou.” Terwyl die uwe vermoed die kommentare word met gepersde lippe en met die verwagting van ’n beloning vir die mooi kommentare getik.

Kropduiwe

Gepraat van krop. Ons almal weet na veertig is gravitasie genadeloos. Alles wat opwaarts gekyk of gestaan het, dreig nou met aksie grond se kant toe, maar nee! Nie vir mevrou Vuisboek nie. Haar moordenaars is nog so ferm soos ’n baba se boudjies. Daai krapogies kyk jou so reg in die oë, jou handjies staan vir niks verkeerd nie. Indien daar ’n Nobelprys vir Vuisboek was, sou Poison Ivy die prys loshande wen. Dis nou die “Wie is jy werklik?”-boekprys. Nou die môre draf die uwe verby die einste Poison Ivy se huis, lank voor sy haar kouse by haar bloes kon indruk, of Revlon se geldkoffers kon vul en daar was sy so broos en deurmekaar, die uwe was oortuig sy was klaar ge-hijack.

Kamers vol geskenke

Die uwe was dan ook deel van die groep wat tydens Kersfees aan elke misdadiger ’n Kersgeskenkie gegee het. Jip, julle moet my nie so vlak kyk nie. Tronkvoëls het meer regte as ’n Dischem-teller. In alle geval dink die uwe net dit is reg dat ons vir ’n slag iets teruggee aan dié wat al jare so baie vir ons doen. Daardie Hilux wat jou jaarliks derduisende rande uit die sak jaag, kom vat die skelmpie uit jou hande. Daardie TV waarvoor jy al maande nie meer ’n lisensie betaal nie, is nou sy probleem. Jou honde wat vergiftig is – sou jy dit oor jou hart kon kry? Nee, Skelmpie sit nou met die skuldgevoel. Selfs jou buurman wat jou so irriteer jy wil hom met ’n hamer bykom, is nou iets van die verlede. Nee, my liewe mensies, julle sal julle gesindheid teenoor korrektiewe dienste moet verander.

Goewerment

Die uwe het ook verlede jaar nagelaat om die plaaslike goewerment te bedank vir alles wat hulle nie vir ons gedoen het nie. Dankie vir lopende water, al loop dit in die pad af. Dankie vir sanitasie, al dryf dit by jou oprit op. Dankie vir gratis huisvesting en veiligheid, al is dit vir ons tronkvoëls. Dankie vir regte, dat die regte mense nie ons eens mooi dorpie hoef te probeer red nie. En laaste, maar nie die minste nie: eerlikheid. Ten minste is julle eerlik genoeg om te erken dat julle nie ’n idee het wat julle doen nie.

Pure plesier

Op ’n meer positiewe nooit. Die Kwassies het moue opgerol en ingespring by die einste koerantjie se poging om maar self die dorp na iets te laat lyk. Nog nooit het so baie jong, enkellopende dames op ’n Saterdagoggend vullis opgetel nie. Kompleet met swart sakke in die hand om die spelers te wys hulle werk net so hard. Of jy nou rugby of roulette speel, Muishond se bloed is hierdie jaar blou! Sterkte vir coach Wayne Rooney en sy span volgende jaar.

Geseënde 2019. – MM 

Is jy al 'n lid van ons Facebook?

Read 609 times

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.

booked.net
Watter kompetisie wil jy aan deelneem?