Ontmoet vir: Jaag karre en motorfietse
 

Ontmoet vir: Jaag karre en motorfietse

Johan Hayes is deel van 'n groep Kimberliete met 'n groot liefde vir karre, motorfietse en spoed. Hy en sy vriende ding oor naweke mee aan drag en drift-kompetisies waar hulle hul omgeboude karre om nou hoeke drift en oor kort afstande drag. Glitter het met hom gesels om meer te leer oor sy liefde vir karre en die kultuur agter die fast en furious tipe stokperdjie. 

Vertel ons meer van jouself 

Ek is werksaam in die office automation industrie waar ons alles van drukkers tot sekuriteitskameras verkoop. Ek beplan om in die nabye toekoms my eie besigheid te begin saam met my pa. Ek is mal oor enige adrenaliensport, veral drifting. My hele gesin is ook mal oor motorfiets ry, behalwe my ma. 

Hoekom karre? 

Karre en motorfietse is maar net dinge  waarvoor ek 'n groot liefde ontwikkel het, my hele vriendekring is petrolkoppe. Karre en motorfietse is wat ons bymekaar gebring het en ons bymekaar hou. 

Waar kom jou liefde vir karre  en motorfietse vandaan? 

My pa was altyd betrokke by 4x4-kompetisies en my oom in oval track-renne.Ek het van kleins af na my oom gaan kyk as hy by die oval deelgeneem het aan renne en ook saam met my pa by die 4x4. Daar het ek my eerste vriende gemaak en so het ek net lief geraak vir beide die karre en die mense. Dit is asof dit in my DNA is. 

Hoe voel dit wanneer jy in jou kar ry? 

Dit is moeilk om dit in woorde om te sit, maar daar kom 'n punt wanneer jy drag of drift wanneer jy een raak met die kar, asof daar nie 'n skeiding is tussen jou brein en die kar se motor nie. Alles voel presies in pas, asof dit versmelt is en jy net in die oomblik is sonder enige ander gedagtes. 

Wat is drag en drift? 

Wanneer jy drag, is die doel om so vinnig moontlik ‘n sekere afstand af te lê. As ons drift, gly ons om ‘n baan en ry selde in 'n reguit lyn. Dit is basies om 'n kar wat buite beheer is te beheer deur stuurtegniek wat bestaan uit steering angle en throttle control, wat neerkom  op hoe jy die stuurwiel en versneller gebruik om die kar om 'n hoek te kry. Drifting is uitdagend, want dikwels moet jy links draai om die kar te laat regs draai en andersom, dit is ,n groot adrenaline rush

Watter tipe kar gebruik jy om deel te neem? 

Ek het 'n paar voertuie, maar my speelkar is 'n Nissan 200SX met 'n omgeboude enjin en suspensie wat aangepas is. 

Wat wen mens as jy eerste kom? 

Daar is of prysgeld of geskenkbewyse op die spel, maar die groot bonus is as jy 'n borg kan losslaan. Borge is baie belangrik in die sport, meer as pryse. 

Wat is die vinnigste wat jy al gery het? 

Ek kan eerlikwaar nie sê nie, my motorfiets se speedo gaan net tot 299 km/h en ek het dit al 'n paar keer tot daar gekry, maar met die kar was ek al oor die 260 km/h. 

Hoe sou jy die kultuur van die mense in die sport beskryf? 

Die mense betrokke in die sport is 'n hegte groep wat altyd mekaar probeer bystaan en verbeter. Jy kry jou loskoppe wat nonsens aanjaag en die sport 'n slegte naam gee, maar die groter groep mense is verantwoordelik en vriendelik. 

Watter slang is eie aan die sport? 

In ons geselskap sal jy gereeld woorde soos: ethanol, water meth, skidz en vang java hoor. Dit is woorde wat ons gebruik om sekere dele van die kar te beskryf. Die meeste mense wat nuut is in ons geselskap dink gewoonlik ons is mal as hulle dit die eerste  keer hoor. 

Wie reël die byeenkomste waaraan julle deelneem? 

Superdift series het altyd by monstermob byeenkomste gehou, veral oor Paasnaweek, maar dit het die laaste tyd doodgeloop. So nou reël ons maar onder mekaar ‘n dag en dan gaan speel ons 'n paar stelle bande dood. 

Deel 'n paar stories van jou tye op die baan 

Daar was al twee geleenthede waar mense wat nog nooit deelgeneem het nie, en ook nie die nodige ervaring gehad het nie, deelgeneem het en dan in 'n sloot langs die baan te lande gekom het. Dan moes ons hulle en die kar daar uitkry. Gelukkig is hulle darem nie ernstig beseer nie. Dit het ook al gebeur dat een van ons te min “talent” het, dan kry jy gewoonlik 'n oproep om te kom help omdat die kar nie meer 'n wiel het nie of nie meer self kan beweeg nie. 

Dan is daar ook die flops wat nou en dan insluip. Ek het al in 'n drag probeer wegtrek terwy die kar in neutraal was. Ek was so gefokus op alles in die kar dat ek skoon vergeet het om die kar in rat te sit. 

Die mees memorable deel van die sport is die laataand garagesessies waar dit net jy, jou kar en 'n paar goeie vriende is, besig om daaraan te werk. Ek kan nie eers meer op my hande tel hoeveel aande ons tot drie-uur die oggend saam aan karre gewerk het nie. Daar is niks soos goeie vriende wat 'n passie deel nie. - Du Plessis Janse van Rensburg

Is jy al 'n lid van ons Facebook?

Read 488 times

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.

booked.net
Watter kompetisie wil jy aan deelneem?