Couple: Die een nooit sonder die ander nie
 

Couple: Die een nooit sonder die ander nie

Soek jy vir Doutjie van Wyk, is hy by René en as jy wonder waar sy is, is dit nie ver van Doutjie af nie. Dié twee is gemaak vir mekaar.

Waar het julle ontmoet?

Ons was albei reeds klaar met skool en het by ’n dans op Barkly-Wes ontmoet. Ek was eintlik met ’n ander ou by die dans, maar ek en Doutjie het begin gesels en het net dadelik geclick. Doutjie sê hy het sommer geweet ek is sy trouvrou. My date het eenkant met ’n mond vol tande gestaan…

Julle is vanjaar 13 jaar getroud. Wat is vir julle belangrik in ’n huwelik?

Om altyd eerlik met mekaar te wees en alles met mekaar te deel. Dit is nie altyd maklik nie en soms maak die waarheid die ander persoon seer. Maar ons albei glo dis makliker om die waarheid te hanteer. Dit kom tog op die ou end uit. Ons probeer ook om soveel as moontlik dinge as ’n gesin saam te doen.

Hoekom werk julle huwelik?

Want ons stel ons vertroue in God. Ons glo ook dat nie een van ons alleen na ’n kuier- of dansplek gaan nie. Dit kompliseer net ’n verhouding.

Julle het twee kinders, Lian en Danika - hoe het dit julle lewens verander?

Vir my as ma was dit die wonderlikste gevoel en grootste seën, maar ek was ook bang oor hoe dit my daaglikse lewe sou verander. Dinge is na die geboorte van jou kinders nooit weer dieselfde nie! Jou prioriteite verander en dinge wat eers vir jou belangrik was soos mooi aantrek en uitgaan saam met jou vriende, is nie meer belangrik nie. Ons lewens draai nou om ons kinders.

Dink jy ouers en kinders spandeer vandag genoeg tyd met mekaar?

Ons probeer om al ons vryetyd met ons kinders te spandeer. ’n Mens moet egter ’n balans handhaaf.

Wat doen julle om kwaliteittyd by mekaar te spandeer?

Ons twee gaan baie min alleen weg. Ons probeer darem so nou en dan met ’n spesiale geleentheid vir ’n aand uitslaap, maar dan voel ons albei skuldig! Ek hou nie daarvan om die kinders alleen te los nie.

Watter tipe pa is Doutjie?

Hy is die wonderlikste pa wat ek ken. Hy is so toegewyd as man en pa en spandeer al sy vryetyd met sy kinders. Hy stel hulle behoeftes altyd voor sy eie. Hy sal alles opsy skuif sodat die kinders byvoorbeeld hulle naweek of vakansie kan geniet. Ek is uit my skoene geseën met so ’n wonderlike pa vir my kinders.

Wie bederf die meeste?

Beslis René! Sy het ’n baie groot hart. Ek probeer ook maar altyd iets van die winkel af terugbring. Dis mos lekker om te bederf.

Hoe sal julle vriende julle beskryf?

Hulle dink ons is nog albei baie verlief en vul mekaar mooi aan. Dis vir ons ’n wonderlike getuienis.

As jy een ding van mekaar kan verander, wat sal dit wees?

Ek sal absoluut niks aan my man verander nie. Hy is perfek vir ons gesin.

Wat waardeer jy van René, Doutjie?

Dis wonderlik om van die werk af by die huis te kom en nie ’n omgekrapte of geïrriteerde vrou in die kombuis te kry nie. Sy groet my altyd met ’n liefdevolle gesindheid en dis lekker om na ’n lang dag by die werk só deur jou vrou ontvang te word.

En jy René, hoekom is Doutjie vir jou so spesiaal?

Doutjie is my grootste droom wat waar geword het. Hy is alles wat ek in ’n man wil hê. Hy is awesome, vol lewenslus en perfek vir my.

Enige verhouding gaan deur moeilike tye - het julle al sewe sakke sout saam opgeëet?

Ons is natuurlik al deur moeilike tye. Ek bid elke dag en sê dankie vir my man. Hy staan my deur alles by. Ek het na ons dogtertjie se geboorte depressie gekry en dit het gevoel of ek die wêreld op my skouers dra. Doutjie was deur al die goeie en slegte tye, by my. Hy is werklik my steunpilaar.

Ons lewe vandag in ’n lewe vol hartseer en gebroke verhoudings. Wat doen julle om te verseker dat julle verhouding sterk bly?

Ek glo ons is mekaar se sielsgenote. Ons maak mekaar se sinne klaar en lees mekaar se lyftaal. As ons woorde het of verskil, bly die een stil en loop weg tot die ander een afgekoel het. Dan praat ons dit uit.

Watter raad of advies het julle vir ander paartjies?

Gaan altyd terug na die beloftes wat julle voor God gemaak het. Kyk ten minste elke jaar na julle trouvideo of opname om julle aan julle troudag en beloftes aan mekaar te herinner. – Ilette Coetzer

 

Is jy al 'n lid van ons Facebook?

Read 518 times

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.

booked.net
Watter kompetisie wil jy aan deelneem?