Praat saam: Opstaan na egskeiding
 

Praat saam: Opstaan na egskeiding

Vasbeslote om ’n sukses van haar lewe te maak, het sy besluit om op te staan na ’n egskeiding en gelukkig te wees. Hierdie trotse ma van twee by wie almal ’n skuilplekkie kan vind, het geleer om haar hart te beskerm van mense se opinies en nie te leef volgens ander se standaarde nie. Sy vertel haar storie sodat ander ma's wat ook uit ’n egskeidings kom weer hoop kan vind. Vir 30 jaar al maak Marilyn Kimberley haar tuiste en bou vriendskappe. Kimberley is nie net haar huis nie, maar ’n plek wat haar vorm.

Jy onthou herinneringe of jy maak herinneringe

Om groot te word saam twee sussies en die oudste te wees, kan altyd interessant raak. “Die Desember-vakansies by my ouma-hulle op ’n koringplaas in die Wes-Kaap is van my gunstelingherinneringe. As kinders het ons altyd onder die bakkie gespeel of verbeel die kappie wat op die grond staan, is ons pophuis. Ek sal nooit vergeet hoe ek saam met my oupa wakker word en vroeg opstaan nie.


Die kosbaarste oomblikke in haar lewe was haar kinders se geboorte en die dag toe sy die deure van haar eie besigheid oopgemaak het. Die lekkerste deel van ma-wees vir Marilyn is die opregte liefde en die drukkies uit die bloute van haar kinders, dis nie ’n aanplakliefde nie.”

Marilyn in ’n neutedop

Haar vriende sal haar beskryf as opreg, eerlik en bedagsaam. Eerlikheid, getrouheid en nederigheid is vir haar die belangrikste eienskappe. “Baie mense vergeet waarvandaan hulle kom - 'n mens moet dit nooit vergeet nie. Jy is net so belangrik soos die volgende individu. Of jy nou ’n sak pak by Pick & Pay en of jy nou bo-aan die korporatiewe leer is, jy moenie dink jy is beter as ander net oor jy ’n titel het nie. Dis hoekom nederigheid vir my belangrik is. Help jou medemens, want mens kan nie jou eie paleis bou en vergeet van ander daar buite nie. Mens moet relateable wees, ander kan inspireer om verantwoordelikheid te vat vir hulle lewe en help om van hulle lewe die sukses te maak waarvoor die Here hulle geskape het.”

Min mense weet Marilyn het verpleging studeer en het vir elf jaar in die teater gewerk. Alhoewel sy dit geniet het, het die min tyd vir haar familie gelaat en sy het deeltyds skoonheidskunde begin studeer. Vir haar was die skoonheidsindustrie ’n baie onsekere beroep in daardie jare, maar het dit as ’n ekstra inkomste gedien. “Wanneer jy jou werk pligsgetrou doen en met soveel liefde, sal jy altyd ’n suskses van jou droom maak. Mens wonder altyd of dit ’n sukses gaan wees, maar ons moet mense hoop gee om kanse te waag.”

Oorwinning oor die moeilikste omstandighede

Marilyn vertel ook dit was nie alles maklik nie. Sy het aan haarself in oorwinning gedink, nie om haarself as ’n slagoffer te sien nie. Sy het soos ons almal omstandighede ondervind wat enigiemand kan laat voel soos ’n mislukking of nie goed genoeg nie, maar sy het ’n keuse gemaak en die lewe vierkantig in die oë gekyk.

“My egskeiding was beslis die moeilikste stryd wat ek moes oorkom het. Ek het geleer hoe die waarheid verdraai kan word, hoe mense opinies gee of oordeel uitspreek en wie jou ware vriende is. Ek was so 'n iemand - maklik geoordeel, opinies oor uitgespreek en daarom kan ek mense advies gee, omdat ek geleer het niemand ken iemand anders se omstandighede nie, niemand weet regtig wat tussen daai vier mure aangaan nie. Nou hanteer ek situasies en mense anders.”

Besef wie jy is as jy onder druk is

“Ek het definitief geleer in hierdie tyd van my egskeiding om stil te word by die Here. Om terug te staan en partykeer die minste te wees. Wat ander mense dink of sê, maak nie saak nie; die mense wat jou ken en wat jou lief het, weet wie jy is.”
Deur mens se eie keuses kan jy jouself in moeilike omstandighede plaas - jy kan nie God blameer nie, maar Hy bly so getrou om jou te help en die regte mense in jou lewe te stuur. Ander kere is mens ’n slagoffer van ander se besluite en dis wanneer jy jouself nie moet kwalik neem nie. “Sodra ek negatief geraak het met my omstandighede of na mense se opinies geluister het, moes ek my herinner wie ek is en wat die Woord van my sê. Dit wat God oor my spreek en wat in Sy Woord staan, is die waarheid. Ek is ’n Koningskind en ek moes my vreugde bewaar. Jou ware vriende stap saam met jou deur jou proses.”

Niemand beplan om te skei nie

Niemand beplan om eendag te skei nie. Kinders word groot met die hoop op ’n gelukkige huwelik en ouers te sien wat mekaar bedien, respekteer en lief het in ’n huwelik wat die toets van die tyd kan deurstaan. “Trou is nie perde koop nie. Dis nie ’n modegier nie en ook nie iets wat afgejaag word nie. As julle vir mekaar is, hoef dit nie gejaag te word nie, julle het die res van julle lewe saam wat voorlê. Met God as fondasie moet julle mekaar bedien en nie lewe om ander te beïndruk nie. Wees lief vir jouself, moenie jouself verwyt nie en maak tyd vir wat belangrik is.” – Elicia Grobbelaar

Is jy al 'n lid van ons Facebook?

Read 1488 times

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.

booked.net
Watter kompetisie wil jy aan deelneem?