Resep: Kerrie op 'n eg Suid-Afrikaanse manier
 

Resep: Kerrie op 'n eg Suid-Afrikaanse manier

Gideon Human het sy liefde vir vleiswerk by sy pa geleer. “My pa is ’n skaapboer van Prieska, asook ’n kranige jagter. Hy is lief daarvoor om met vleis te eksperimenteer. Ek maak deesdae omtrent al my vleisprodukte van niks af, letterlik. Van die hoef tot die pot!”

“Een van my gunsteling resepte, is dié kerrieresep. Dis ’n Indiese kerrie, maar jy kan self besluit hoe warm jy hom wil hê. In Duitsland eet mense kerrie op tjips as straatkos, en om dit ’n bietjie Suid Afrikaanse karakter te gee, maak ek vir lesers ’n bunny chow.”

Noord Indiese kerrie

Tjips: Sny 3 tot 4 aartappels in skyfies en kook sowat tien minute. Haal tjips uit kookwater en koel in koue water af.

Kerrie

Skil en sny ’n kilogram ryp tamaties in klein blokkies.(Gooi tamaties in kookwater vir ’n paar minute om skil maklik te verwyder. Koel in koue water af.) Kap ’n ui en sny twee aartappels in blokkies. Sny 5 knoffelhuisies en ’n duim vars gemmer fyn saam en hou eenkant.

Masala

Maal die volgende fyn en voeg bymekaar:

3 droë peri peri chilis
6 tl koljandersade (doen veral moeite om die outjies fyn te kry, of kry klaar fyngemaaldes)
3 tl koemein
1 tl borrie
10 kardamompeule se saadjies
2 tl mosterd
10 naeltjies
3 tl paprika
2 tl swart peper

Sout 'n kilogram opgesaagde skaapnek. Braai ui oor lae hitte saam met 'n teelepel kaneel en twee lourierblare. Sodra die ui begin glaserig word, voeg knoffel en gemmer by, en braai nog sowat drie minute. Draai jou hitte op en gooi vleis in die pot. Braai tot dit begin bruin word. Gooi masala oor vleis en roer terwyl jy braai. Dis belangrik dat die masala goed braai om al die geure te laat uitkom, maar pasop vir aanbrand. Gooi 'n pakkie tamatie puree by en roer goed deur. Gooi 'n bietjie rys asyn saam met 'n koppie water by. Voeg fyngesnyde tamaties by. Roer goed en proe. Gooi dan sout en vars chili na gelang van smaak by, maar pasop, elke een het 'n duidelike effek, hou aan proe! Prut oor lae hitte.

Sit jou afgekoelde tjips weer vir tien minute in medium hitte olie. Laat weer afkoel.

Kyk na jou kerrie, sodra die tamaties begin sag raak en wegkook, gooi jou aartappels by, maar moenie roer nie. Laat die aartappels bo-op die kerrie sag stoom, anders gaan jou pot vasbrand.

Maak solank jou olie baie warm. Sny 'n lekker vars witbrood in kwarte en lig die binnekant al teen die korsie op om 'n pakkie te maak waarin jy gaan bedien.

Maak jou tjips klaar in warm olie. Dit is gewoonlik vinnig, nie sommer langer as 3 tot 5 minute nie. Plaas tjips op handdoekrol om die oortollige olie te dreineer. Voeg sout by.

Gooi 'n bietjie tjips onder in jou broodjie. Roer jou kerrie deur en skep oor die tjips. Bedien met sout en asyn en geniet. Hierdie is kos wat jy met jou hande eet! – Ilette Coetzer

 

Is jy al 'n lid van ons Facebook?

Read 326 times

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.

booked.net
Watter kompetisie wil jy aan deelneem?