Spirit: Hoe kan Kimberley lyk?
 

Spirit: Hoe kan Kimberley lyk?

Dis vir my altyd snaaks  - en dit gebeur so een maal per jaar – as ek my kinders aflaai by Newton-laerskool en iemand het al weer 'n jong boompie in 'n slaggat in Conradstraat geplant. Ouens doen dit maar uit frustrasie, want hulle soek dienslewering. Maar dit bly snaaks. Wat nie so so snaaks is nie, is wanneer jy bestorm word by elke stopstraat en winkelsenturm deur bedelaars en mense wat werk soek. Die groot probleem is natuurlik nie bloot die irritasie wat dit vir jou en my wat hier lees, veroorsaak nie. Die groot probleem is hierdie is mense, mense met name, families, behoeftes, drome, pyn. Dit is desperate mense. Veral dié wat werk soek, maar nie het nie.

Wat ook nie snaaks is nie, is as jy lees die Noord-Kaap sit met die hoogste voorkoms van fetale alkoholsindroom (FAS) in die wêreld. Wat glad nie snaaks is nie, is as jy besef daar is nie eers genoeg sitpleke in kerke in Kimberley vir 10% van die bevolking nie, en dan is baie kerke nog leeg ook. Wat sê dit van die geestelike toestand van ons stad, of wat sê dit van die lewe en krag van God (of tekort daaraan) in ons gemeentes? Wat nog as jy lees van die gemeenskapsleiers en die een na die ander korrupsieskandaal wat oopgevlek word? En wat van baie kerke wat meestal meer behep is met ‘n kompetisie met mekaar om lidmate te wen eerder as om ‘n verskil in die stad te maak (prys die Here vir die uitsonderings)? Al die goed is nie snaaks nie. Dit is simptomaties van die sondeverval in 'n gemeenskap en 'n kerk wat nie teologies toegerus is om iets daaraan te doen nie.

Sien, ons het as gelowiges 'n goeie werk gedoen om te verstaan en te verduidelik dat Jesus gekom het om die sondaar te red, maar ons het nie 'n goeie greep op die konsep dat Jesus ook gekom het om totale transformasie en herstel te bring nie. Tog sê die Skrif in Romiene 11:36: “Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge” en in Efesiërs  1:22:  “En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee.” Kolossense 1:16-17: “... want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte - alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape.” Kom jy agter dat daar 'n redelike Skriftuurlike argument is vir “alle dinge” om onder Christus se heerskappy te wees? Dit behels tog meer as ons Sondagdienste en stiltetyd? Dit sluit tog seker in alle dinge soos honger mense, korrupsie, gebroke huwelike, dwelmmisbruik, dienslewering, gesonde besigheid, goeie bestuur, en wat nog? Dit spreek in die Evangelie van 'n hele stad wat herstel moet vind..

My gunsteling-voorbeeld in die Bybel hiervan is in Handelinge 19. Gaan lees gerus die verhaal waar Paulus en 'n handvol dissipels die donker, geestelik-korrupte stad van Efese so bedien dat daar binne twee jaar so 'n transfomasie is dat dit die ekonomie begin affekteer. Hoe kan Kimberley lyk as ons as kerk uit die blokke kom en die stad se issues by die horings pak? Ek wil die kerk bemoedig: ons het die krag van die Here en die beste boodskap op aarde. Kom ons vat hande en kom ons beweeg buite die mure van ons kerke en maak Kimberley 'n plek waar God regeer!

Foto geneem deur Alta van Wyk | Picture You Photography

 

Is jy al 'n lid van ons Facebook?

Read 703 times

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.

booked.net
Watter kompetisie wil jy aan deelneem?