Sport: Volkspele - vir die hele familie
 

Sport: Volkspele - vir die hele familie

Vir baie mense loop die woorde "volkspele, outyds en oumense" hand-aan-hand. Daar is selfs mense wat glo hierdie tradisie bestaan nie meer nie. Maar in Kimberley is hierdie kultuur nog iets wat deur verskeie mense aan die gang gehou word en is meer mense hierby betrokke as wat baie van ons lesers sal dink. Ons spog selfs met ’n paar skoliere wat die Noord-Kaap op nasionale vlak in volkspele gaan verteenwoordig. Glitter gesels met Nico en Nathania Terblanche wat al jare lank volkspele speel en dit is ook juis by ’n volkspelekamp waar hulle mekaar ontmoet het.

So het dié volkspele-paartjie mekaar ontmoet

Nathania en haar man, Nico, het mekaar as tieners in 2000 by ’n volkspelekamp in Uitenhage ontmoet. Nico was in daardie stadium van George en sy van Bellville. Nico kom uit ’n familie wat volkspele doen en hoe dan nou anders as om daarmee voort te gaan? Nathania het aanvanklik begin volkspele doen om meer tyd saam met ’n vriendin te spandeer wat in daardie stadium in ’n ander hoërskool as sy was. Na die kamp het elkeen sy gang gegaan. ’n Paar jaar later, na skool, het hulle mekaar weer by ’n volkspelesaamtrek raakgeloop. Tien jaar later het hulle saam begin kuier en die liefde het begin blom. In daardie stadium was dit eers ’n langafstand verhouding. "Ek het in een jaar 22 keer afgery Kaap toe om by Nathania te gaan kuier," lag Nico. "Maar alles was die moeite werd," sê hy met ’n glimlag.

Vandag is hulle al sewe jaar lank gelukkig getroud en ook geseënd met twee pragtige kinders.

Hulle kinders is ook deel van die tradisionele volkspele

Wanneer Nathania en Nico een keer ’n week op ’n Vrydagaand saam met die ander lede bymekaarkom, is hulle twee kinders, Nina (3) en Handré (10 maande) ook geklee en reg vir wat die aand inhou. "Nina verbaas ons elke dag met die liedjies se woorde wat sy Vrydagaande leer," vertel Nathania trots. "Sy sing en speel al baie lekker saam." En al is Handré nog nie eers ’n jaar oud nie, pas hy goed in by die tradisie met sy pikante swart onderbaadjie wat  Nathania onlangs vir hom aangeskaf het.

Alhoewel dit hulle soms motivering kos na ’n harde week van werk of net die daaglikse take van ouerskap, is hierdie vir hulle kwaliteittyd wat hulle as gesin saam kan deurbring.

Nathania sê volkspele is vir nou hulle gesin se enigste buitemuurse aktiwiteit. Andersins spandeer hulle sommer net tyd by die huis saam deur legkaart te bou, stories te kyk of bordspeletjies te speel.

Wat gebeur tydens ’n volkspelebyeenkoms?

Wanneer hulle Vrydagaande in ’n skoolsaal bymekaarkom, speel almal voluit saam volkspele en sing na hartelus saam. Wanneer daar nie gesing word nie, hou hulle sommer net ontspanningsaande, fliek- of outydse dansaande.

Tydens elke byeenkoms trek elke lid ook eg tradisioneel aan, met die dames in wye rokke terwyl die manne in knopieshemde en onderbaadjies pronk. Die term niggie en nefie word steeds gebruik om mekaar aan te spreek.

Volkspele in Kimberley

Nathania vertel hulle is 72 geregistreerde volkspelelede, waarvan ’n handjievol jongmense is. Twee leerders van Kimberley is gekeur om die nasionale week in die Wes-Kaap by te woon. Hulle gaan kamp, leer die bewegings van die spele, sing die liedere, woon verskeie praatjies by en vele meer.

Nathania vertel dat die baie mense wat saamtrek en saamspeel en vriendelike gesigte hulle aanvanklik gelok het om te begin met volkspele. "Dit is vandag nog so."

Kompetisies

Kimberley se volkspelelede neem nie aan kompetisies deel nie, maar hulle woon wel ander se saamtrekke en aktiwiteite by. Nathania vertel, Vrystaat bied hierdie jaar ’n 24-uur volkspelemarathonaand aan. Mense gaan dwarsdeur die nag van Vrydag- tot Saterdagaand speel. Nico en Nathania het self al nie minder nie as 11 van hierdie marathonaande oor die jare bygewoon.  Hiervoor het hulle sertifikate ontvang, asook vir verskeie kursusse en vele meer wat hulle voltooi het.

Nico is die laerleier van Springbok-volkspelelaer in Kimberley, asook die Noord-Kaap se streeksvoorsitter. - Du Plessis Janse van Rensburg

Is jy al 'n lid van ons Facebook?

Read 92 times

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.

booked.net
Watter kompetisie wil jy aan deelneem?