Talks about: Haal beter asem
 

Talks about: Haal beter asem

Om asem te haal, is ‘n baie alledaagse aktiwiteit - soveel so dat min mense regtig daaroor dink, maar die manier hoe ons asemhaal, kan ‘n groot invloed op ons gesondheid hê. In joga word daar groot klem geplaas op asemhaling as 'n manier om die liggaam meer effektief te laat funksioneer. Glitter het met Martin Maree,'n gekwalifiseerde joga-instrukteur, gesels oor die rol van asemhaling in gesondheid. 

Hoe het jy by joga uitgekom? 

Ek het in 1990 as 'n konstabel in die SAPD my wortels in Kimberley kom plant. Huidiglik doen ek opleiding in die forensiese afdeling van die SAPD. In 2001 met die aansporing van 'n vriendin, sluit ek by jogaklasse aan. My opleiding as joga-instukteur begin in 2006 en ek kwalifiseer in 2009 as 'n joga-instrukteur van Iyengar-joga. In 2012 open ek my eie studio - Kimberley yoga studio. 

Hoekom  is asemhaal so 'n groot deel van joga? 

Net soos die fisieke belangrik is vir joga, is asemhaal 'n baie integrale deel van joga. Asem, of in jogaterme prana, is die lewenskrag. Dit is belangrik om te weet wanneer om in te asem en wanneer om uit te asem as jy inbeweeg in die pose of asana. Met jou inasem veskaf jy meer energie aan die liggaam, terwyl uitasem meer ontspanne is. 

Die asanas is ter voorbereiding vir die pranayama of yogic breathing. Daar is verskeie yogic breathings - een so 'n yogic breath is ujjayi. Ujjayi is 'n diep asemhalingstegniek wat jou help om asemhaling te kontroleer en sodoende kalm te raak en in die oomblik te wees. 

Hoe vergelyk Pilates met joga? 

My kennis van Pilates is beperk. Joga en Pilates is in baie opsigte dieselfde sover dit die oefeninge of postures/asanas betref. Die  verskil is dat joga 'n baie ou dissipline is en Pilates het om en by 1920 ontstaan. Sover dit die asemhaling betref, sal Pilates soortgelyke asemhalingstegniele as joga gebruik. 

Wat is die nut van korrekte asemhaling in die alledaagse lewe? 

Almal was al in 'n veg- of vlugsituasie waar die adrenalien pomp. Dit het tot gevolg dat jy vinniger en vlakker asemhaal. Tydens ons alledaagse werk en lewe word ons ook onder geweldige druk geplaas en dit kan lei tot 'n gevoel van “uitasem” wees, met wisselvallige asemhaling. Met die regte asemhaling kan jy in baie gevalle jou angs en selfs depressie verlaag. Jou energievlakke verhoog ook wanneer jy reg asemhaal, wat tot beter produktiwiteit lei. Regte asemhaling het 'n invloed op die hoeveelheid bloed wat na jou spiere toe gaan, wat spanningsknoppe in die nek en skouers kan laat verdwyn. Wanneer ons konsentreer op ons asemhaling lei dit ook daartoe dat ons bloeddruk stabiliseer.  

Hoe kan mense stres deur die korrekte asemhaling beveg? 

In joga doen ons pranayma wat verskeie asemhalingoefinge insluit. Een van die mees basiese oefeninge is om diep in te asem, dit vir 'n paar sekondes te hou en dan diep uit te asem en weer 'n paar sekondes met die uitasem te hou. Wanneer die diep asemhaling gedoen word, moet jy dadelik ophou sodra jy lighoofdig raak. In die begin kan die ongeoefende praktiseerder dit moelik vind om asemhaling te oorwin, maar deur dit gereeld te herhaal, sal jy dit gou baasraak. 

'n Ander taktiek is om seker te maak dat wanneer jy asemhaal, jy heeltemal uitasem. Dit mag dalk snaaks klink, maar wanneer ons nie volledig uitasem nie, bly daar oortollige koolstofmonoksied agter in die longe wat maak dat daar net 'n beperkte hoeveelheid suurstof in die bloed opgeneem word. Hoe meer suurstof die liggaam kan inkry hoe meer effektief kan dit omgaan met die prosesse om stres te verlaag, maar sonder die regte hoeveelheid suurstof word hierdie prosesse vertraag. 

Waarom het asemhalingsritme so 'n groot impak op die liggaam? 

Wanneer jy diep asemhaal, begin jy ontspan en vars suurstof  word deur die rooibloedselle na die verskillende dele van die liggaam versprei. Sonder suurstof kan die selle nie energie opwek nie en die metobalisme is minder effektief. Die liggaam verbrand daagliks biljoene ou selle. Solank as wat ons normaal asemhaal en genoeg suurstof inneem, raak die liggaam ontslae van al die afval in die ligaam. Suurstof is nodig vir die herstel van selle, voed die brein en is nodig vir die funksionering van spiere. 

Watter effek het hierdie asemhaaltegnieke op jou lewe gehad? 

Ek het gereeld angsaanvalle ervaar, soms het hulle heel onverwags gebeur. Ek het 'n paar dinge probeer om dit te oorkom, maar toe leer ek dat mens met die korrekte asemhalingstegnieke spanning kan beveg. Joga en die asemhalingstegnieke wat daarmee saamgaan, het my geleer om in die oomblik te lewe; die hier en nou is wat gaan bepaal wat in die toekoms gaan gebeur.  

As ek my nou bekommer oor wat môre gaan gebeur, steel ek tyd. Daar is 'n Sanskrit-gesegde wat lui: For breath is life, and if you breathe well you will live long on earth. Ek glo heelhartig dat korrekte asemhaling mens se lewenstandaard kan beïnvloed.  - Du Plessis Janse van Rensburg

 

 

 

 

 

 

 

Is jy al 'n lid van ons Facebook?

Read 164 times

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.

booked.net
Watter kompetisie wil jy aan deelneem?