Tegnologie: Apps vir die nutsman
 

Tegnologie: Apps vir die nutsman


In en om elke huis is daar verskeie dinge wat van tyd tot tyd aandag nodig het. Soms is dit iets kleins soos 'n lig wat jy moet vervang en ander kere dalk iets groter soos 'n kamer wat jy moet oordoen. As jy 'n natuurlike nutsman is of een in die huis het, is sulke take nie iets wat jou snags hoef wakker te hou nie. Nie almal trou egter met 'n nutsman of word een gebore nie, wat maak dat jy wens jy kon 'n nutskonsultant aanstel om jou te help wanneer jy kennis kortkom as dit by dinge regmaak of omskep in en om die huis kom.
Glitter het 'n paar apps gaan soek wat die leemtes aan nutsmanne in die gemiddelde huishouding aanvul en jou weer 'n sorgelose nagrus sal gee.


Dulux Visualizer ZA
Daar kom 'n tyd in elke huis wanneer 'n kamer 'n nuwe laag verf nodig het. Gewoonlik gaan dit gepaard met opgewondenheid en net soveel raaiwerk, want wie weet nou eintlik watter skakering pienk gaan reg lyk? Jy het slegs daardie klein vierkantige of reghoekige toetstrokies wat die winkelassistent jou gee om teen die muur te hou en dan te raai hoe die hele muur in daardie kleur sal lyk. As jy moeg is om te raai hoe jou geverfde mure gaan lyk, laai Dulux se Visualizer app af. Dié app het een hooftoepassing, om jou 'n realistiese idee te gee hoe daardie emerald lily gaan lyk wanneer jou sitkamer daarmee geverf is. Dit maak gebruik van jou slimfoon se kamerasensors om die mure waarna jy dit wys op die foon te kleur na die kleur wat jy verkies.
Jy kan 'n foto neem van die muur soos die app dit kleur of die app kan 'n foto wat jy geneem het invoer en die proses herhaal as jy nie self by die spasie is wat jy wil verf nie. Wanneer jy 'n kleur kies, kan jy die naam en kleurkode sien, wat nuttig is as jy die verf moet gaan koop. Dulux Visualizer is 'n gratis app in beide Google Play en Apple se app stores.

DIY Tip Genius
DIY Tip Genius is vir huisreparasies wat woordeboeke is vir woorde. Dit bevat 'n versameling van 1800 antwoorde van alledaagse huis-nutsvrae. Die app het verskeie kategorieë soos aanbouiing, skoonmaak, loodgietery, elektries, ensovoorts om van te kies.
Elke wenk en beskrywing het 'n video of fotoreeks by wat jou stap vir stap verduidelik wat om te doen met die projek waarmee jy besig is. Die uitleg is skoon en netjies, wat maak dat jy vinnig en doeltreffend by die oplossing kom wat jy verlang.
Die app is gratis om af te laai op in beide Google en Apple se app stores en addisionele funksies is teen 'n fooi beskikbaar.


Pro Landscape Home
As dit kom by tuinmaak, is dit soms moeilik om te weet presies hoe daardie bos krismisrose gaan lyk in die oprit se bedding of hoe die woestynrose in die bedding langs die voordeur gaan vertoon. Pro Landscape Home is 'n app waarmee al wat 'n "groenvinger" is hulle droomtuine kan bou sonder om van die bank op te staan of 'n struik by die kwekery te gaan omruil. Die beginsel agter die app is eenvoudig. Jy neem 'n foto van 'n deel van jou tuin wat jy wil herskep en kies dan watter plante jy graag sal wil plant, trek hulle in die foto in en rangskik na jou smaak. Die app het 'n databasis van gewilde plante waarvan jy kan kies. As die plant ingetrek is, kan jy die grootte daarvan manipuleer sodat dit pas by wat jy graag in die bedding wil sien. Jy het die opsie om jou skepping as 'n foto te stoor wat jy weer later kan raadpleeg of na willekeur kan verander. Pro Landscape Home is gratis verkrygbaar in beide Apple en Google se app stores.


I-Ruler
Enige nutsman en vrou wat hulle sout werd is, sal vir jou sê dat 'n maatband een van die belangrikste stukke toerusting in hulle gereedskapstrommels is, maar wie dra deesdae 'n maatband saam oral waar hulle gaan? Sonder 'n maatband of 'n manier om lengtes te meet, sal baie huisprojekte nie kan vorder nie, daarom is I-Ruler so 'n nuttige app. Dit laat jou toe om afstande te meet met slegs jou foon en hande. Om dit te gebruik, is baie eenvoudig. Al wat jy doen, is om jou foon plat op of langs die oppervlak te sit wat jy wil meet, een vinger op die skerm te plaas en die foon aan te skuif totdat jy klaar gemeet is. Die app gebruik die bewegingsensors van die foon om die afstandlesings vir jou te gee en jy kan selfs opgradeer vir 'n groter verskeidenheid van liniaalsoorte. I-Ruler is 'n gratis app in beide Google Play en Apple se app stores.


I-Handy Level
Daar is min dinge so irriterend soos 'n skewe portret teen 'n muur of 'n las wat 'n hele kas laat skeeftrek omdat dit nie haaks aanmekaargesit is nie. Daar is ook net so min dinge meer uitdagend as om te weet wanneer iets wat jy teen 'n  muur wil vassit of aanmekaarsit haaks is. Die app I-Handy Level kan baie van jou haakse frustrasie oplos. Dit maak gebruik van die foon se sensors en skerm om jou te help sien wanneer iets wat jy wil hang of aanmekaarsit haaks is. Wat die app so verbruikersvriendelik maak, is die eenvoud daarvan en hoe seepglad dit oorskakel van 'n horisontale na vertikale haakslesing.I-Handy Level is 'n gratis app in beide Google en Apple se app stores. - Dupie Janse van Rensburg 

Is jy al 'n lid van ons Facebook?

Read 1491 times

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.

booked.net
Watter kompetisie wil jy aan deelneem?