Voorblad: Willem Pienaar - Vadersdag as betrokke pa
 

Voorblad: Willem Pienaar - Vadersdag as betrokke pa

Daar is 'n groot verskil tussen pa-word en en pa-wees - 'n verskil wat baie mense jou met groot hartseer of verwondering kan verduidelik. Glitter het met Willem Pienaar, wie se kindertyd arm was aan vaderskap, gesels oor sy pad na pa-wees sonder ‘n verwysingsraamwerk en die lesse oor pa-wees wat hom bybly.

Vertel ons van jou gesin

Ons is ‘n gesin van vier - ek, Marietta, my vrou, ons dogter Suzanne en ons seun Ruben. Marietta werk sommige weke uit en dan is ek verantwoordelik om die kinders se skool en huisreëlings te behartig. Ek is gelukkig om my eie baas te wees, so dan kan ek hierdie verantwoordelikhede nakom so tussendeur my besigheid se verpligtinge.

Wat beteken die woord pa vir jou?

'n Mens kan seker baie sê oor waarvoor die woord pa staan, maar vir my is daar drie dinge wat opkom. Die eerste is dat dit 'n voorreg is om 'n pa te wees. Daar is baie mans wat pa’s word, maar nooit regtig moeite maak om pa’s te wees nie. Die tweede is die enorme verantwoordelikheid van leierskap en versorging vir kinders sodat hulle opgroei tot die beste weergawe van hulleself. Die laaste is die uitdagings wat daarmee saamgaan. My kinders is nie wie ek is nie en om 'n pa te wees in my ervaring beteken om myself heeltyd daaraan te herinner wanneer ek my pa-rol vol staan.

Hoe het dit gevoel toe jy jou kinders die eerste keer gesien het?

Daar was net een gedagte wat my by opgekom het en dit was: “Dit is myne, hierdie mens het geen ander pa as ek nie.” Daardie oomblikke was 'n groot ontnugtering en vreugde vir my omdat ek net daar en dan besef het watter groot verantwoordelikheid ek gehad het teenoor hulle as hulle pa.

Hoe het jou prentjie van 'n pa se rol gelyk vanuit jou kinderdae?

Dit is 'n moeilike vraag om te antwoord, omdat ek nie 'n mooi raamwerk of verwysing beleef het nie. My ouers is geskei toe ek twee jaar oud was en my biologiese pa het sy hele lewe lank 'n groot drankprobleem gehad. Ek het hom ook nie gereeld gesien nie. Hy het elke soveel jaar skielik by ons huis opgedaag om in te loer en dan weer verdwyn. Hy is uiteindelik dood sonder dat ons enige vorm van 'n verhouding gehad het.

Nadat my ma geskei is, het sy  weer getrou, maar met die man wat sy gekies het, het ek ook om verskeie redes, onder andere drank en sy geneigdheid om my of my ma met die vuis te slaan wanneer hy onder die invloed was, nie 'n goeie verhouding gehad nie. Hy kon ook nie standvastigheid bied nie vanweë sy onvermoë om 'n werk te behou.

Watter waardes sal jy as pa wil sien jou kinders uitleef?

Ek glo in die Here en daarom is dit vir my belangrik dat my kinders ook die Here sal leer ken en so leef dat ander mense deur hulle lewens kan sien wie Hy is. Ek hoop ook om hulle so groot te maak dat integriteit deel is van hulle wese sodat hulle nie sal buig onder druk nie, maar die regte ding sal aanhou doen, al kos dit hulle wat. Liefde en om mense met liefde te hanteer, is ook iets wat ek hoop hulle sal verstaan. Die waarde van respek staan ook voor in die ry as dit kom by die waardes wat ek in hulle probeer inbou, omdat ek glo dat respek jou baie ver kan kry in die lewe.

Hoe het jy die ding van pa-wees benader met dié dat jy nie 'n gesonde verwysing gehad het nie?

Die een ligpunt as dit kom by vaderfigure in my lewe was my oupa. Ek het hom as kind vir 'n kort rukkie geken toe ons by tye by hulle gaan bly het. Ek onthou hoe ek as jong seun gesien het hoe my oupa my ouma hanteer het, met liefde en agting. Dit het 'n reuse-indruk op my gelaat omdat ek dit nie geken het nie. My oupa het ook 'n nou pad met die Here gestap. Ek onthou hoe hy elke oggend nadat hy opgestaan het, gaan bid het in die kamer oorkant my kamer en hoe daardie gewoonte saam met die vrug  van sy lewe my hart oortuig het dat daar wel iets goeds lê in man- en pa-wees.

‘n Ander element wat my gehelp het, was dat ek tot bekering gekom het op 18 en daaruit ook 'n kompas gehad het om vanaf te werk as dit kom by pa- en man-wees. Vir my is die prinsiepe wat in die Bybel vasgevang word kern van hoe ek probeer pa wees.

Watter wenke het jy vir ander pa’s?

Anker eerstens jou pa-wees in die Here. Daar is baie boeke wat jou kan vertel wat die regte dinge is om te doen, maar daar is net een verhouding waarin jy regtig hoor wat nie net reg is om te doen nie, maar wat op die ou einde lewe bring en wat dood bring.

Tweedens: kinders luister met hulle oë, nie met hulle ore nie. Ek moes al baiekeer hierdie les oor en oor met my eie kinders leer. Ek kan vir hulle vertel en sê wat hulle moet doen, maar as ek dit nie leef nie, moet ek soveel meer moeite maak om dit aan hulle te kommunikeer. As pa is jy altyd in die spotlight. Ek onthou ek en my seun was eenkeer op pad toe iemand van agter in ons vasry. Nadat ons afgetrek het, het die ander persoon, 'n man, op my afgestorm en my geïntimideer deur baie naby aan my te staan en skree. Ek was baie naby daaraan om my humeur te verloor, maar het gelukkig omgedraai en niks doms aangevang nie.

Die volgende dag toe ek en my seun op pad skool toe is, sê hy uit die bloute: “Ek wens ek het Pa se geduld gehad.”Toe ek hom vra waarom hy so sê, het hy gesê hy sou daardie man sommer dadelik bygedam het, maar omdat ek nie het nie, was dit vir hom indrukwekkend. Ek het net daar besef hoe fyn my kinders my dophou.

Hoe benader jy as pa dissipline?

Soos meeste ander ouers is ek soms op 'n plek waar ek dissipline moet toepas. My seun is aan die begin van sy tienerjare en daar is dan en wan tye wat ons mekaar misverstaan of wanneer ek hom deur dissipline moet lei. Die woord verhouding is vir my sentraal in dissipline. Sonder verhouding is dissipline tandetrek. Hiermee sê ek nie ek buig agteroor sodat ek meer van 'n pel as 'n pa is vir my kinders nie, maar wel dat ek sensitief is teenoor hoe ek en hulle op verhoudingsvlak vergelyk.

Verhouding begin by 'n balans tussen die rolle wat jy vervul. ’n Pa is nie net 'n pa nie, hy is ook 'n broer, vriend, adviseur en 'n klomp ander dinge. As 'n pa heeltyd die polisieman- en regterrol inneem, sal kinders heel waarskynlik meestal optree soos boewe. Daar is 'n plek vir daardie rolle, maar kinders het ook soms 'n advokaat nodig. - Du Plessis Janse van Rensburg 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Is jy al 'n lid van ons Facebook?

Read 446 times

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.

booked.net
Watter kompetisie wil jy aan deelneem?