Voorblad: Verweefde liefde
 

Voorblad: Verweefde liefde

Cor en Rene Grobbelaar se lewens is verweef op verskeie terreine, as man en vrou, ouers en as besigheidsleiers. Glitter het by hulle gaan uitvind hoe hierdie verweefde rolle in hulle verhouding uitspeel. 

Hoe het julle besigheid begin? 

R: My ma het al die jare vir tuisnywerhede op die dorp gebak, 'n groot deel van my kinderherinneringe speel af in die kombuis langs my ma waar ek haar gehelp het met baksels bak vir besendings. 

My pa, wat lank by spoornet gewerk het, is in 1999 medies-ongeskik verklaar en het toe begin hand bysit by die bakkery. Ek was 'n verpleegster en het in 2009 bedank om ook in te val by die bakkery omdat ek my dogter te min gesien het; ek was toe reeds swanger met Reco, ons seun. 

Aan die begin het ek gefokus op geleentheidskoeke oftewel novelty cakes.My suster is kort daarna in 2010 oorlede en ons het by my ma'le ingetrek om mekaar te ondersteun, so het ek ook meer betrokke by die bakkery geraak. 

Ons het met vakansie gegaan in daardie jaar en die idee van ons eie besigheid is daar gebore. Aanvanklik sou ek 'n afleweringsvoertuig kry waarmee ek op bestelling sou aflewerings doen. In daardie tyd het North Cape Mall gebel om te vra of ons nie 'n spasie wou huur nie en so is ons eerste winkel gebore. 

Hoe het jy in verpleging beland? 

R: Ek was van jongs af mal daaroor om mense te help. Na skool was ek gelukkig om die geleentheid te kry om verpleging te studeer deur Mediclinic. My tyd as verpleegster het my baie geleer oor wat dit regtig beteken om mense te dien en tot vandag toe speel my tyd as 'n verpleegkundige ‘n groot rol in hoe die besigheid bestuur word. 

Julle het beide 'n unieke styl - waar kom dit vandaan? 

R: Ek hou baie van die sangeres Pink se haarstyl en musiek en baie van my eie haarstyle word deur haar geïnspireer.Tussen my en Cor het ons ses tatoes, Cor een en ek vyf. Cor het 'n stertatoe wat hy na die afsterf van sy sussie gekry het. Sy het drie tatoesterre op haar rug gehad en daarom het hy ook een gekry. Ek is mal oor Cor se hipster tipe baard. 

Watter tipe reaksie kry julle oor julle styl? 

R: Ek het al 'n paar skewe kyke gekry oor my look, maar meestal kry ek meer komplimente. In Cor se geval is dit half dieselfde, maar daar is mense wat hou van sy baard en dan is daar weer dié wat nie daarvan hou nie. 

My pa het 'n ruk geneem om gewoond te raak aan die hare; deesdae raak hy saam opgewonde as hy hoor ek gaan vir 'n nuwe look. My kinders hou baie van hulle ma se funky hare. 

Hoe gereeld besoek jy die haarkapper? 

R: Gewoonlik een keer per maand, maar soms gaan ek meer dikwels as dit, dit hang net af of ek lus is vir iets anders. 

Waarom het jy die punk styl gekies? 

R: Dit is iets buitengewoons wat die koppe laat draai en dit laat my toe om uiting te gee aan my waaghalsige kant. 

Hoe was julle kinder-/tienerlewe? 

R: My ma het altyd gesê ek was 'n maklike kind. 

C: As kind was ek baie aktief en betrokke by sport as. Ek het aan baie verskillende sportsoorte deelgeneem, soos rugby, krieket, toutrek, stoei, tennis, ens. Ek was van kleins af lief daarvoor om goed met my hande te bou. 

Waaroor is julle passievol? 

R: Kunste, handwerk, mooi musiek en menslikheid. 

C: Ek is 'n mense-mens wat hou daarvan om mense saam te trek. Hierdie passie kom meestal uit wanneer ek mense nooi om deel te neem aan kar events om geld in te samel vir liefdadigheid. So waar ookal daar mense en mooi karre is, daar wil ek ook wees. 

Wat is julle drome vir die toekoms? 

R: Ek sal net wil sien dat my kinders gelukkig is in die toekoms. 

C: Ek sal graag wil sien dat die besigheid groei sodat dit sy eie fabriek kan hê sodat ons die werkers met aandele kan bemagtig. So glo ek sal hulle en hulle kinders 'n beter toekoms kan hê. 

Wat is julle stokperdjies? 

R: Ek sing koor en geniet handwerk soos brei en hekel. 

C:  Ek is gaande oor Subaru-karre!  As ek vryetyd het, gaan dit daar in. Die herstel of opbou van die karre gee my baie energie. Ek is gek daaroor om met my hande te werk. Tans is ek besig om vir my 'n café racer-motorfiets te bou. 

Wat is die beste deel van julle lewens? 

R: Die geboorte van my kinders. 

C: Verreweg my ongelooflike vrou en pragtige kinders wat ek as 'n seën sien. Die hegte band wat ons as gesin geniet, is vir my spesiaal. Dit is iets waarvoor ek baie dankbaar is. Ek en Rene is skoolliefdes van 1998 af en sy het nog net mooier geword van toe af. Sy het 'n pragtige hart en sy probeer altyd mense help waar sy kan. 

Watse lesse het julle geleer in jul lewens? 

R: Niks kom vanself nie. Harde werk is die samevoeging van beide geleentheid en deurbraak. 

C: Mense kan verander. Moet nooit dink dat mense nie die potensiaal het om jou te verras nie. Die Here is groter as gister, vandag of môre se pyn. Wanneer mense jou teleurstel, is dit jou keuse of jy toelaat dat daardie aksies jou karakter verswak - jy het altyd 'n keuse! - Dupie Janse van Rensburg

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Is jy al 'n lid van ons Facebook?

Read 1124 times

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.

booked.net
Watter kompetisie wil jy aan deelneem?