Leser: Veg vir dié wat nie ’n stem het nie
 

Leser: Veg vir dié wat nie ’n stem het nie

Kimmy Sassin het ’n hart vir diere. Of dit nou honde, katte of voëls is, by Kimmy sal hulle ’n veilige hawe vind.

Jy het in Kimberley grootgeword en daarna besluit om deur Unisa te studeer. Vandag het jy jou LLB en is besig met jou meestersgraad, maar dit was sekerlik nie maklik nie?

Vir seker. Ek was in Kimberley en meeste van my vriende het in Bloemfontein of Potch studeer. Dit kan baie alleen raak. As ek eksamen skryf, is hulle klaar, en andersom. Ons kwartale het ook nie ooreengestem nie. Ek dink enige persoon wat afstandsonderrig aanpak, moet baie selfgedissiplineerd wees. Jy is jou eie dosent en daar is nie so baie ondersteuning vir studente soos met tradisionele universiteite nie. Jy is op jou eie. Maar ek is bly ek het deurgedruk.

Jy werk by 'n prokureursfirma in Kimberlery, wat geniet jy van jou werk?

Elke dag is ’n nuwe uitdaging. Daar is nie twee sake wat dieselfde is nie. Die wet verander ook so vinnig dat jy daagliks moet bybly. Daar is ook nie ’n vaste roetine nie en dit pas by my persoonlikheid. Ek het ’n passie vir mense wat swaarkry en nie vir hulleself kan opstaan nie. Ek spesialiseer in familiereg met egskeidings, aannemings en gesinsgeweld en probeer regtig om ’n verskil in ander mense se lewens te maak.

Kry die negatiewe omstandighede jou nie soms onder nie?

Nee wat. Dit is soms moeilik as een ouer nie verantwoordelikheid vir sy gesin wil neem nie en baiekeer gee vroue sommer net op, omdat die proses te lank neem. Maar ek voel dat ek mense kan help en ek probeer om vir alle partye, en veral die kinders, ’n regverdige skikking te bewerkstellig.

Maar jy is nie net passievol oor jou werk nie, diere lê jou baie na aan die hart...

Definitief, veral dieremishandeling en diere wat swaarkry. Ek wil graag vir hulle ’n stem wees, iemand wat na hulle belange omsien. Ek hoop om al hoe meer met omgewingsake betrokke te raak.

Wat doen jy om jou passie uit te leef?

Ek is by baie diereverenigings soos die Kimberley-SPCA, Matlosana No Kill Shelter en Huistoe Animal Shelter in Bloemfontein betrokke. Ek probeer om soveel as moontlik van my vrye tyd te gebruik om verwaarloosde diere se lot te verbeter. Ek is ook by ’n paar projekte betrokke om geld en kos vir diere in te samel. Ek is egter ook betrokke by organisasies soos Young Guns wat uithelp met Kimberley se flaminke. Ek wil fisies daar wees waar nood is. Dit maak nie eintlik saak watter diere betrokke is nie - as hulle hulp nodig het, wil ek help.

Waar het jou liefde vir diere begin?

By my ma. Ek het met diere grootgeword en kan nie dink aan ’n tyd wat diere nie deel van ons lewe was nie. Ek is ook ’n pet sitter en stap gereeld met ander eienaars se honde of pas hulle oor naweke en vakansies op. Mense is vandag so besig dat hulle nie altyd aandag aan hulle diere kan gee nie. Ek probeer om daai leemte wat eienaars los, te vul.

Hoekom is diere en hulle nood vir jou so belangrik?

Daar is genoeg organisasies wat mense help. Diere is so dankbaar vir enige aandag wat hulle kry. Daar is geen groter liefde as dié van ’n dier nie. Hulle is onvoorwaardelik lief vir jou. We are the voice of the voiceless.

Dis vandeesmaand Vrouemaand – wat beteken die vroue in jou lewe vir jou?

My ma is my alles. Sy het my geleer dat familie belangriker as enigiets anders is. Geld en vriende kom en gaan, maar jou familie is altyd daar. Niks kan hulle vervang nie. Ek het ook ’n beste vriendin. Ons het ontmoet toe ons sewe was en is tot vandag toe beste vriendinne. Ek dink elke mens moet iemand hê wat vir jou objektief kan sê of jy op die regte pad is. Iemand wat regtig eerlik met jou is. ’n Goeie vriendin is kosbaar. Geen geld kan dit koop nie.

Jy is ook al ses jaar in ’n verhouding – hoekom werk dit?

Godsdiens is vir ons albei baie belangrik en nommer een in ons lewens. Dan is ons verhouding gebou op liefde en respek vir mekaar. Ons werk as ’n span om suksesvol te wees. En ons probeer om mekaar nie te verander nie. Hy ondersteun my ten volle en gee my die geleentheid om my passie uit te leef.

Deel hy jou passies?

Hy was nie altyd so erg oor diere nie, maar hy het die afgelope paar jaar ook besef dat diere soveel liefde het om te gee. Nou is hy die een wat honde op straat optel. Hy besef hulle kan nie vir hulleself baklei nie.

Waaroor droom jy nog?

Ek wil daardie persoon wees wat die flaminke uit die dam haal, wat die pikkewyne wat met olie besmeer is, skoonmaak. Ek wil fisies met die diere wat swaarkry, werk en nie agter die skerms staan nie. Op die ou end wil ek my graad gebruik om werklik ’n stem vir diere en die natuur te wees.

Dink jy werklik een mens kan ’n verskil maak?

Beslis. Elke mens wat ’n glasbottel in plaas van plastiekbottels gebruik, maak ’n verskil. Dit is al tweede natuur by my om rommel op die strand en in die veld op te tel. Tel jou eie rommel op, herwin plastiek en wees goed vir jou troeteldiere. Ek weet ek kan nie die planeet of alle diere red nie, maar ek kan ’n verskil in Kimberley maak. Saving one dog won’t change the world, but for that one dog the world will change forever. – Ilette Coetzer

 

 

Is jy al 'n lid van ons Facebook?

Read 88 times

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.

booked.net
Watter kompetisie wil jy aan deelneem?