Ontmoet vir: Vrou-alleen in 'n manne-industrie
 

Ontmoet vir: Vrou-alleen in 'n manne-industrie

Ansie Jonker (36) is 'n vrou in 'n oorwegend manne-industrie. Haar brood en botter is om veiligheidsopleiding aan te bied en te verkoop aan myne en ander nywerhede wat van swaar grondverskuiwingmasjinerie gebruik maak.

Glitter het met haar gaan gesels oor die professionele pad wat haar hierheen gelei het, haar persoonlike lewe en die lesse wat sy geleer het as vrou in 'n mannewêreld.

Hoe was jou grootword dae?

Ek het in Middelburg Mpumalanga grootgeword. Dit was 'n lekker dorp. Ons het daai tyd nog toktokkie gespeel en Sondae was dit lekker om na kerk dokter Koitje se koemkwarte by sy voordeur te steel. Op skool was ek mal oor sport en het aan hokkie en muurbal deelgeneem. Ek het die voorreg gehad om Stellenbosch toe te vlieg vir 'n oefenprogram in graad 11. Die vlug daarheen was een van die hoogtepunte van my skoolloopbaan. Na matriek is ek Londen toe om die wêreld en myself te verken. Ek het drie jaar daar gewerk enletterlik amper elke werk wat daar was gedoen, van kroegmeisie tot au pair. Dit was 'n ongelooflike ryk ervaring en my ouers was net te bly dat ek in een stuk teruggekom het.

Watter hoofstuk van jou lewe was tot dusver die opwindendste?

Ek het in 2014 die Noord-Kaap vir die maatskappy vir wie ek werk, begin verteenwoordig. Dit was 'n besonderse geleentheid en voorreg. Ek het gelag en gehuil, maar ook geseëvier. Dis 'n tyd van my lewe wat ek nooit sal vergeet nie

Vertel ons van jou familie

Ons is 'n gesin van 5, ek het twee boeties en is die jongste. Ek het hul almal baie lief en sal hulle vir niks in die wêreld verruil nie.

Wat is een van die dinge wat jy wil doen voor jy doodgaan?

Ek sal graag die aurora borealis anders bekend as die northern lights wil gaan sien.

Watter werke het jy al gehad?

Ek het popcorn en slush puppy by die fliek verkoop. Dit was my eerste werk. Toe het ek gaan waiter waarna ek in 'n troeteldierwinkel gewerk het. Ek was ‘n au pair en het selfs ook al vir Parmalat gewerk toe ek kookkuns studeer het. Ek was ook al ‘n takbestuurder van Tekkie Town, het my eie slaptjips-besigheid gehad en het vir 'n wyle ook deur tot deur verkope gedoen, en ek het vir 'n rukkie as kroegmeisie in Springbok Pub gewerk.

Watter drie lewenslesse het jy tot dusver geleer?

1. Moenie dat iemand se gebrek aan karakter jou karakter beïnvloed nie. Dit het my geleer kophou in moeilike situasies.

2. Al hol die leuen ook hoe snel, die waarheid agterhaal hom wel - wees altyd eerlik.

3. Dit laat nie jou vlammetjie beter skyn om iemand anders se kers uit te blaas nie - gun ander mense geluk.

Wat dryf jou om jou werk te doen?

Elke keer as ons opleiding aangebied het, voel ek ons het 'n verbetering aan ons land gemaak, deur die leerlinge 'n nuwe vaardigheid te gee wat hulle nie voorheen gehad het nie. So in my klein wêreld voel ek asof ek ook ‘n positiewe verskil maak.

As jy 'n dier was, watter een sou jy wou wees?

'n Panda.

Wat is jou beste party trick?

Ek kan ‘n stukkie vuurhoutjie tot op die bodem van ‘n botteltjie water laat sak.

Jy is 'n vrou in 'n industrie wat meestal uit manne bestaan. Watter wenke het jy vir vroue wat in soortgelyke werksomgewings is?

Ek dink dit begin by egtheid. As ek myself is as vrou, wen ek met die manne. Om eerlik te wees en nie doekies om te draai nie, het ek geleer help ook. Goeie kommunikasie is ook baie belangrik; mans verkies 'n reguit gesprek. Ek het ook gevind mans plaas 'n hoër waarde op respek as baie ander dinge, daarom sal ek moeite doen om die woord respek gereeld te gebruik en dit ook te wys. Om geduldig te wees het my ook al baie gehelp. Manne, nes vroue, het af-dae en om dit te sien vir wat dit is, het my al gehelp om baie moeilike situasies te ontlont.

Ek sou sê dit help ook om leergierig te wees tussen manne; niemand hou van 'n wysneus nie, veral nie manne nie. Die laaste les wat ek geleer het, is hoe growwer die raam, hoe mooier die skildery. Daar is baie manne saam met wie ek werk wat so grof is soos boombas, maar harte van fluweel het. Moenie die uiterlike verwar met die innerlike nie. 

Wie is jou held?

My oupa, Hendrik van den Berg. Hy was die eerste apteker in Nelspruit. Hy het mense gehelp en selfs later na hulle diere omgesien omrede daar nog nie 'n veearts was nie. My oupa het altyd gesê doen iets ordentlik of moet dit glad nie doen nie. Dit is nou al ‘n paar jaar na sy afsterwe, maar my oupa se naam is steeds op die die Van Den Berg-apteek in Nelspruit. Ek dink dis besonders as jou naam voortleef as jy nie meer hier is nie. - Dupie Janse van Rensburg 

Is jy al 'n lid van ons Facebook?

Read 394 times

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.

booked.net
Watter kompetisie wil jy aan deelneem?