Ken mekaar: Willem van der Merwe
 

Ken mekaar: Willem van der Merwe

Willem van der Merwe is volgende jaar 'n dekade in Kimberley. Sy storie is 'n versameling van uitdagings, oorwinnings en ander avonture wat hom gevorm het in wie hy nou is. Glitter het met hom gesels om meer oor sy storie te wete te kom.

Hoe was jou kinderdae?

Ek was kleintyd maar n handvol en kon nie vir 'n oomblik stilsit nie. My ouma het altyd gesê ek is haar klein wurm, want ek oral heen gekriewel. Ek was 'n baie spelerige kind wat met almal en enigiets gespeel het. As kind was ek baie geheg aan my oumagrootjie. Ons het een keer by haar gaan kuier toe ek skielik met die wegry baie siek begin word het. Die dokters het gesukkel om vas te stel wat fout was met my, maar later het hulle vir my ouers gesê hulle glo ek is siek van verlange na haar.

Vertel ons van jou hoërskooldae

Ek dink ek is een van die min mense wat hulle skooldae geniet het en dit mis. My hoërskoolbelewenis was kleurvol. Ek het aan baie aktiwiteite deelgeneem, lekker vriende gehad en uitgedraf vir die eerste hokkiespan. Ek sou wat wou gee om dit weer te beleef.

Wat het jy na skool gedoen?

Na skool het ek dadelik as 'n tegnikus vir 'n koelkamermaatskappy begin werk. As ek terugdink, was dit een groot avontuur, want ek was maar 18 jaar oud en moes skielik 'n klomp verantwoordelikheid neem. Ek het daardie werk baie geniet omdat ek baie moes rondtrek en so ek het baie plekke en dinge gesien en beleef.

Wat was een van die uitdagendste dinge tot dusver in jou lewe en wat sou jy sê het dit jou geleer?

Ek sou sê toe ek in 2009 besluit het om met net 'n rugsak vol klere Kimberley toe te verhuis om nader aan Ben, my lewensmaat, te wees. Ons het oor die foon begin gesels en sewe dae later het ek besluit om na hom toe te trek. Dit was baie vreemd, want ons het mekaar net 'n week geken oor die foon, maar nou is ons al amper tien jaar saam. Dit het my geleer as jy nie jou drome najaag nie, sal hulle altyd by jou spook, instede daarvan dat jy hulle waar maak.

 Het jy al enige noue ontkomings gehad?

Ja, ek is eenkeer deur 'n onverskillige taxi van die pad af gedruk terwyl ek op my fiets op pad werk toe was. Ek het gelukkig net met 'n geswelde gesig vol skraapmerke daarvan afgekom, maar dit het gevoel of ek gaan doodgaan toe ek daar val. Ek het ook eenkeer uit 'n boom geval en so albei my arms ontwrig.

Watter drome het jy?

Ek wil graag eendag oorsee gaan en gaan reis, maar ek's so blerrie bang vir 'n vliegtuig, so daardie droom sal nie gou waar word nie. Andersins het ek al sover al my drome bereik en ek is ongelooflik dankbaar daaroor.

Wat sal jy doen as iemand jou 'n miljoen rand gee?

As iemand my 'n miljoen rand gee, stap ek eers oor die straat, koop vir my 'n pie en Coke, en dan sal ek kan dink wat kan ek doen met daai klomp geld, want ek weet regtig nie wat ek daarmee sal doen nie.Ek sal definitief eers die geld wegbêre en niemand daarvan vertel nie.

Wat is een van die snaaksste dinge wat al met jou gebeur het?

Ek en my skoonma was eenkeer besig om te kook in die kombuis toe sy een van die kaste by my kop oopmaak sonder om my te waarsku en my per ongeluk vol in die gesig met die deur tref. Dit het my een tand in die middel gebreek. Ek het hom maar later laat uittrek, want wie wil nou met 'n halwe tand rondloop? Ek en sy lag vandag lekker daaroor as ons saam kook.

Watter drie lesse sou jy sê het die lewe jou geleer?

Selfstandigheid, vertroue en verstand. Daardie drie woorde sou ek sê, lê aan die kern van my lewe tot nou toe. As kind het ek nie 'n heeltemal normale lewe gehad nie, dit was by tye swaar. Ek het geleer dat niemand jou gaan help as jy nie jouself help nie. Ek het ook geleer dat vertroue iets is wat by jouself begin en dat jy jou verstand moet gebruik en dinge soms eers deurdink.

Wat krap jou om?

Mense wat dink hulle is beter as ander mense en mense wat ander mense nie 'n plek in die son gun nie, maak my kwaad.

Wat maak jou gelukkig?

Ek is op my gelukkigste voor my rekenaar, dis asof ek in my eie wêreld leef en niks en niemand kan my kwaad of seer maak daar nie. My hond Milo maak my ook gelukkig en natuurlik tyd saam met my lewensmaat Ben.

Wat is jou gunsteling-kos?

Ek is gaande oor potjiekos.

- Dupie Janse van Rensburg

Is jy al 'n lid van ons Facebook?

Read 386 times

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.

booked.net
Watter kompetisie wil jy aan deelneem?