Jou storie: Sprokiesromanse vir 'n sprokiestroue
 

Jou storie: Sprokiesromanse vir 'n sprokiestroue

Oud-Griekwaspeler Clinton Swart en Genevé Zaaiman het die 19de Mei, na 'n sprokiesromanse die mooiste troue gehad net buite George gehad. Glitter het meer gaan uitvind oor hulle sprokiesliefdesverhaal.

Die ontmoeting


Genevé en Clinton het mekaar in Kimberley ontmoet terwyl Genevé haar fisio-gemeenskapsjaar by Kimberley-hospitaal gedoen het. “Ek het vir my CV gaan uithelp met down rub massages by Griekwas, min wetende dat ek die liefde van my lewe daar sal ontmoet.” Een van die Griekwa-spelers het die hoof-fisio se foon gesteel en van haar foon af vir Genevé ‘n boodskap gestuur wat lui: “Die ouens sien uit daarna om jou te ontmoet.” Genevé het nog by haarself gedink: “Watse onprofessionele persoon stuur dit?” en toe kom 'n tweede boodskap deur wat sê: “So jammer, een van die ouens het my foon gevat.”

Een aand, toe sy weer uitgehelp het, kom een van die spelers na haar toe aangestap vir 'n fisiosessie. Net voor sy begin, sê hy: “O ja, um, ek het die boodskap gestuur.” Genevé het dadelik gedink: “Wat ‘n tipiese jock!” Clinton het haar na die tyd gevra om iets saam hom te gaan drink en sy het ingestem. Die volgende oggend het hy haar weer genooi vir 'n ontbyt en van daar af was daar nie terugdraai nie - hulle was verlief.

Die een vir my

Hulle het al hoe meer saam gekuier en Clinton het  besef Genevé is die girl vir hom. Vir Genevé was daar net iets spesiaal aan hom. Sy lang hare en vriendelikheid het dadelik haar oog getrek. “Clinton het 'n hart van goud. Hy het my geleer ken op 'n baie moeilike tyd van my lewe toe my ma siek geword het en hy was altyd daar vir my en my gesin." sê Genevé. "Liewe Jesus het ‘n engelman vir my gestuur. Hy is nie net goed in rugby nie, hy is goed in alles wat hy doen. Hy het ‘n opregte diepte aan hom en soveel omgee vir sy gesin en vriende. Sy beste eienskap wat hy vir my gewys het, is sy mooi, kosbare hart.” 

“My gunsteling-eienskap van Genevé is haar persoonlikheid. Sy is altyd die een wat met die grootste smile rondloop en vriendelik is. Sy weet ook net hoe om my op te cheer as ek bietjie down is. Sy maak vinnig nuwe vriende en kan maklik 'n geselsie aanknoop met iemand vreemds. As ek dinge so luister, is dit 'n wonderlike eienskap wat sy by haar ma gekry het. Haar energie en lewenslus is ook vir my spesiaal. Ons deel ook baie belangstellings - enigiets avontuurlustig behalwe visvang, wat sy boring vind, maar ek is ok met dit, want sy het darem al uit haar eie uit rugby begin leer. Sy is ‘n ongelooflike vrou en ek glo nie daar is iemand beter vir my daar buite as sy nie, ek het haar baie lief!"


Verlowing op ‘n immergroen heuwel

Die twee duifies het verlede jaar in Londen by Genevé se suster gaan kuier. Hulle het toe sommer ‘n draai gaan maak in Skotland ook, wat natuurlik die perfekte plek was om die groot vraag te vra. Genevé wou vir Clinton die beeldskone uitsig gaan wys wat sy gesien het toe sy gaan draf het. Dit was ‘n heuweltjie wat oor die hele Skotland uitgekyk het. Net daar het hy besluit om sy oomblik te waag. Clinton se: “Sy het nie eers daaroor gedink nie en dadelik ja gesê.”                                            

Die perfekte dag

“Die troue was ongelooflik," vertel Genevé. "Die plaasatmosfeer was lieflik en dit was net die perfekte dag. Ek het geweet Clinton is die een, so ek was vol butterflies van excitement. My kosbaarste mooi oomblik was om Clinton te sien toe ek in die kerk instap. Dit was vir my moeilik sonder my ma, maar dit was vir my so spesiaal om haar haarknippie in my hare te kon dra. My suster het my en Clinton verras met 'n liedjie wat my ma gesing het op hulle troue. Alhoewel dit baie trane gebring het, het dit ook soveel geluk gebring om net haar stem te hoor asof sy daar is, terwyl ons op die liedjie dans. Clinton het ook baie hard gewerk om die dag perfek te kry. Hy het byvoorbeeld 'n bordjie met die woord love op uit hout, met liggies, gebou. Almal by die troue was mal daaroor en het foto's daarvan geneem. Die hele gebeurtenis was kostelik, ons eie royal wedding."


Ek het die meisie van my drome nou my vrou gemaak

“Die troue was vir my onvergeetlik," sê Clinton. Als het vlot verloop, alhoewel ek glad nie voor die groot oomblik kans gehad het vir stilsit nie. Ek het op en af gehardloop om seker te maak die dag is perfek vir my bruid en dat sy op die dag nie moet stres oor iets wat nog gedoen moet word nie. Ek was baie kalm voor die tyd, want het heeltyd tot op die laaste minuut nog rondgehardloop, maar die oomblik toe ek daar voor in die kerkie staan en wag, het my hart uit my bors begin klop. Sy het so ongelooflik gelyk en ek het so baie uitgesien na die dag dat ek vir 'n oomblik nie my trane kon inhou nie. Sy was prentjiemooi en ek het daar besef ek het die meisie van my drome nou my vrou gemaak.

Die boodskap wat die dominee gegee het was ook ongelooflik en nie net gepas vir ons twee nie, maar vir elke mens wat daar gesit het. Die lekkerste deel van die troue vir my was toe hulle ons voorgestel het as Mnr. en Mev. Swart. Almal het hulle die hele aand gate uit geniet, selfs met die koebaai sê aan die einde van die aand het meeste mense maar 'n traan gepik. Dit was vir my treffend om al die omgee in almal te sien."            


Wittebrood-planne

Hulle het eers vir 'n kort bederf-wittebrood Balito toe gegaan. Die twee gaan vir 7 maande op 'n avontuur Japan toe, want Clinton gaan vir die Toyota for Blitz speel, wat afgerig word deur Jake White. Genevé gaan Engels gee of 'n pos as 'n fisioterapeut kry. Hulle moes kort na die troue daarna toe verhuis, daarom gaan Clinton sy vrou eers met hulle regte wittebrood verras wanneer hulle in Japan is. - Dupie Janse van Rensburg

Erkennings

Karin Chan - grimering & hare

Celia Hough - fotograaf

Julie Wedderburn - trourok.

 

Is jy al 'n lid van ons Facebook?

Read 1008 times

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.

booked.net
Watter kompetisie wil jy aan deelneem?