Voorblad: Groot roem wink vir KBY-duo
 

Voorblad: Groot roem wink vir KBY-duo

Moenie verbaas wees as jy binnekort treffer op treffer oor die radio hoor en dit deur ’n plaaslike musiekduo van Kimberley gesing word nie. Want G’nT, ons eie band wat bestaan uit Thys Beukes en Eugene Prinsloo, is besig om ’n wegholsukses van hulle loopbaan as sangpaar te maak.

Om saam te kan sing

Thys (46) en Eugene (26) is twee musikante wat nog altyd gedroom het oor ’n loopbaan as sangers. Altwee het eers loopbane op hulle eie in die musiekbedryf gehad - Thys hoofsaaklik as ’n DJ en Eugene in die klankbedryf. Maar een aand, aan die einde van 2015, by The Occidental, het hulle saam begin sing. Eers as ’n grap. “Ons stemme het toe net baie goed gepas. Ons het al hoe meer besprekings begin kry om saam te sing,” vertel Thys. Hy sê aan die begin het hulle dit nog nie so ernstig opgeneem nie, maar later besef hulle het iets beet wat kan werk. Dinge het van daar spoed opgetel en hulle het reeds saam met ander bekendes soos Snotkop, Die Campbells en Adam Tas opgetree.

Nie altyd so maklik nie

Die musiekbedryf is ’n tawwe een om in naam te maak. Duisende mense probeer en net die bestes van die bestes kan op die einde ’n bestaan daarvan maak. “Ons is diep onder die indruk dat ons dinge ordentlik en reg wil doen. Ons het vroeg besef ons het net een kans om ons name te vestig. Daarom het ons besluit om dit op die regte manier te doen,” vertel Thys. Hulle het daarom kundiges op die gebied genader om vir hulle liedjies te skryf. Een van die liedjieskrywers is Roux Cloete, wat al liedjies vir Bobby van Jaarsveld geskryf het. Die duo is nou besig om aan hulle eerste CD te werk en het reeds 10 liedjies wat heeltemal voltooi is. Universal Music het ook van hulle te hore gekom en gaan hulle CD uitreik en versprei. Daar is ook ’n publisiteitspersoon, Lydia Winchester, ’n baie bekende in die musiekbedryf, aan hulle toegestaan. Intussen is een van hulle liedjies, Langsaam Mekaar Wakker Word, die nr. 1-liedjie op Treffers Radio se Top 30. Daar is ook sprake van ’n video op KykNet een van die dae en Huisgenoot het ook reeds oor die duo berig.

“Dit is baie lekker dat dinge besig is om vir ons te gebeur, maar dit is ook harde werk en baie bloed sweet,” sê Eugene. Maar dit is oor en oor die moeite werd.

Braaivleis, kuier, veld en vuur

Hulle beskryf hulle musiek as die soort waarna mense om ’n braaivleisvuur sal wil luister. Een van hulle liedjies heet juis Dis ’n Manneding. “Ons glo dat musiek mense bymekaarbring, ontspanne moet laat voel en ’n gevoel van samehorigheid moet bewerkstellig,” sê Thys. Daarom sing hulle musiek waarna mense graag wil luister. Hy sê hulle doen ook baie moeite om elkeen van hulle vertonings vir die gehoor ’n belewenis te maak. “As ons nou regtig moet eerlik wees, moet ons toegee ons is nie oil paintings nie, en mense kom nie net om na ons te kyk nie. Ons moet regtig vir hulle iets gee.” Hulle doen daarom moeite om hulle vertonings ’n ervaring met beeld ook te maak.

Rondrits en rondreis

Vir hulle is dit die lekkerste deel om die vertonings te doen. Dit kan soms ook die moeilikste deel wees. “’n Mens slaap soms op vreemde plekke en ver van die huis,” vertel Thys. Dit is vir hulle altwee moeilik om weg te wees, want hulle het geliefdes wat by die huis moet bly. Thys is getroud met Desireé en hulle het ’n 17-jarge dogter, Tiffany-Anne . Eugene is verloof aan Hannah. Altwee van hulle het ook beroepe hier. By vertonings ontmoet hulle altyd interessante mense met interessante stories. En soms gebeur daar ook vreemde goed met hulle. “Ons het een aand in ’n plek in Bloemfontein opgetree. ’n Man in die gehoor vra ons toe of ons Die Bloubul-liedjie sing. Ons sê toe nee, ongelukkig nie. Die man was nie baie tevrede nie en het gedreig om ons toerusting te begin oppak en wegdra as ons dit nie gou sing nie. Hy het sommer baie aggressief geraak en ons moes omtrent die vrede bewaar,” vertel Thys.

Kimberley is hulle mense

Eugene sê hulle het geen planne om die Diamantstad vir enige ander stad te verruil nie. “Ons wil graag ons loopbane laat werk deur net hier te bly. Dit is waar alles begin het en dit is die mense wat maak dat ons is wie ons is.” Hulle wil hê mense moet hulle musiek geniet en dit is waarmee hulle nou voortgaan.

Voortaan, as jy treffers op die radio hoor of op die TV sien, staan stil en luister of dit nie Kimberley se blinkste nuwe sterre is nie. - Karen van der Berg
 

Is jy al 'n lid van ons Facebook?

Read 1318 times

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.

booked.net
Watter kompetisie wil jy aan deelneem?