Coffee Break: Getroud, geskei, getroud
 

Coffee Break: Getroud, geskei, getroud

’n Egpaar van die stad was getroud, het geskei en is toe weer getroud. Vandag is hulle gelukkiger as ooit en kan nie hulle lewe sonder mekaar indink nie.

Freddie en Hester Chalmers het mekaar jare terug op Potchefstroom ontmoet en was dadelik verlief. “Ons het verlief geraak, verloof en toe getroud,” vertel Hester. Hester was 24 jaar oud en Freddie ’n skrale 19. ’n Maand na haar troue, was sy swanger met hulle dogter, Candy; en vier jaar later is Gilbert gebore. Terwyl Freddie gewerk het, het Hester na die kinders se doen en late omgesien.

Allermins

“Ons het later Kimberley toe verhuis, maar ons huwelik was allermins rooskleurig. Ons het deur baie moeilike dinge gegaan. Ek moes in die huwelik bly, want my kinders is my lewe. Dinge het net slegter geraak, veral toe die kinders hoërskool toe is. Freddie wou my skei, maar ek het aangehou vir hom baklei,” vertel Hester.

Sy was baie betrokke by haar seun se sport en dit was vir haar soos ’n deel van haar lewe wat weggeneem is toe hy grootword. Sy het nog steeds alles in haar vermoë gedoen om sover moontlik daar te wees vir hom.  

Huwelik erge knou

“Ek het my eie besigheid begin, maar het nie gevoel ek het enige selfvertroue nie. Ek het net vir die Here gevra om die besigheid te run terwyl ek die werk sal doen.” Weer het hulle huwelik ’n erge knou gekry en het hulle vir vier jaar basies aparte lewens gelei. Hulle het geen tyd met mekaar spandeer nie en het gewoond geraak daaraan. “Ek het Freddie met geen respek hanteer nie en hom laat verstaan ek is nie meer lief vir hom nie. Ek het ’n muur rondom my gebou, om myself teen seerkry te beskerm. Daarom het ek ook nie meer omgegee wat hy doen nie. Freddie het homself al meer onttrek en nie vir my die nodige liefde gegee  wat ek nodig gehad het nie.” Teen dié tyd, 29 jaar in die huwelik in, het hulle meer as ooit baklei. Beide partye erken dat hulle net geen moeite meer met en vir mekaar gedoen het nie en dit het vir Hester gevoel asof Freddie net nie omgegee het oor al die seer wat hy veroorsaak het nie.

Genoeg is genoeg

In Februarie vanjaar het Hester besluit genoeg is genoeg. Sy verdien ook geluk. Sy het Freddie gesê sy  het hom nie meer lief nie en Freddie het uitgetrek. “My skeisaak het op 1 Maart vanjaar begin en alles is op 23 Maart afgehandel. Ons is wettiglik geskei.” Hester vertel die ironie was hulle het minder baklei as ooit, na hulle besluit het om te skei.

Freddie het elke dag by Hester gaan koffie drink. Sy het hom weer gehelp met sy wasgoed en so het hulle mekaar omtrent elke dag gesien. Freddie het mettertyd begin planne maak om Pretoria toe te trek, maar hy kon homself net nie sover kry om Hester hier in Kimberley te los nie.

“Ons het dinge uitmekaar getrek, deurgetrap en Freddie het my gevra kano ns weer probeer. Hy het nooit opgehou om my sy vrou te noem nie, maar ek het dit duidelik gemaak ek sal net instem as hy radikaal verander.”

Breek die mure af

Freddie was bereid om 300 % te gee om Hester se vertroue terug te wen en hy het haar belowe  hy sal verander. Drie weke na hulle amptelik geskei is, het Freddie weer op sy knieë gegaan en haar gevra om te trou. In sy huweliksbelofte aan Hester het Freddie beloof om Hester nooit weer te onteer as sy vrou nie en hierdie keer was sy belofte een van ’n volwasse man, en nie ’n kind van 19.

Belowe om te verander

“Ek het ook belowe om Freddie met die nodige respek te behandel,” vertel Hester. “Die Here is nou nommer een in ons huis. Net deur leiding van God kan ons dit maak werk. Ek het ’n nuwe man gekry en hy behandel my soos ’n koningin. Dis nou vir my maklik om hom met respek te hanteer.” As iets pla praat hulle dadelik daaroor voor dit tyd het om te broei en die een kwaad is vir die ander voordat enige party al iets verkeerd gedoen het.

Haar eksman sou nie

Hester vra vir Freddie om iets vir haar te doen en sonder huiwering maak hy so. Met ’n seuntjie-stout glimlag op sy gesig sê hy vir haar:  “Sjoe, jou eksman sou dit darem nooit vir jou gedoen het nie, né? Hy was darem ‘n groot ou vark.” Dit laat vir Hester van oor tot oor lag en sê sy alles wat gebeur het voel eintlik so onwerklik. Dat hulle nou op hulle amper-oudag so ’n fantastiese huwelik kan hê, is vir hulle net een groot vreugde en seëning. – Ronell van der Sandt

Is jy al 'n lid van ons Facebook?

Read 1738 times

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.

booked.net
Watter kompetisie wil jy aan deelneem?