Voorblad: Vier Kersfees saam
 

Voorblad: Vier Kersfees saam

Kobus (29) en Andri (29) Kühn, met hulle twee dogtertjies, Liadan (6) en Miray (17 maande), sien uit na die Kerstyd wat voorlê. Hulle probeer tyd met albei se gesinne deurbring, maar is gelukkig enige plek waar daar ’n “tent onder ’n boom kan inpas”. Glitter het by hulle gaan kuier om meer uit te vind oor wat Kersfees vir hulle spesiaal maak.

Die egpaar was jare gelede saam in die Laerskool Eureka. Hulle het na baie jare weer ontmoet tydens een van hulle beste vriende, Louis en Dorinde Ferreira, se verlowingsdag. Liadan was toe omtrent ’n jaar en ’n half oud, waarna Kobus en Andri twee jaar gelede die knoop deurgehaak het. Volgens Kobus was dit baie lekker om ’n klein dogtertjie as deel van sy nuwe gesin by te kry. “Liadan is 'n baie spontane en liefdevolle kind. Dis moeilik om nie oor die weg te kom met haar nie. Sy is 'n kaalvoet-dogtertjie wat net buite wil wees. Met haar liefde vir avontuur gaan sy gereeld saam om vis te vang, kamp en rotsklim te doen. 

Wou gesin uitbrei

Kobus en Andri wou redelik vinnig hulle gesin uitbrei, sodat die kinders naby aan mekaar is en kan saam grootword. “Dit was aanvanklik vir my ’n aanpassing met nog ’n babatjie in die huis, maar Andri is so ’n natuurlike ma. Sy hanteer dit soos ’n pro. Soos Miray ouer geword het, het haar persoonlikheid ontwikkel. Dit is nou moeilik om ’n wêreld in te dink sonder haar. Elke dag is ’n avontuur met die twee sussies in die huis.”

Vakansies

Kerstyd is vir hulle belangrik met om met hulle families te wees. “Ons is gewoonlik tussen die Van der Linde-gesin in Mosselbaai of by die res van die Kühn-gesin – iewers waar daar net ’n tent onder ’n boom inpas. As ons in Mosselbaai is, sal ons heerlike gammon- en lamtjoppies geniet en as ons kamp, braai ons onder die sterre met mielies en soetpatats in die kole. Ons probeer altyd tyd by beide families spandeer. Vanjaar sal ons na die Van der Lindes se vakansiewoonstel toe gaan vir die Desembervakansie en Kersfees.” Kobus sê hulle het maar ’n spesiale plekkie in hulle harte vir Mosselbaai. “As dit moontlik is, is ons gewoonlik Desember-vakansie daar. Ons wissel dit natuurlik af met ’n kamp aan die einde van die vakansie saam met ons Kaapse familie.” Hy vertel laggend sy slegste Kerspresente is “sokkies en ’n ongemaklike soen van ’n tannie”, maar dat hy self hou van kamp-gadgets en tools, terwyl Andri se gunsteling-present tot dusver  ’n spesifieke rok wat sy gekry het, was.

 

 

Roetine en goeie maniere

Die egpaar se ouerskapstyl is streng en hulle glo in goeie maniere vestig as deel van hulle kinders se fondasie. “Ons besef ook dat daar tye is wanneer  jy net moet lag en die kinders ruimte gee om hul eie persoonlikhede uit te leef.” Kobus vertel hulle het ’n redelike standvastige roetine in die huis. “Andri sal die kinders regmaak vir die dag en ek sal daarna vir Liadan skool toe vat. Ek ry dan lekker vroeg kantoor toe tot die ergste verkeer verdwyn, waarna ek dan koffie gaan drink by my vriend Louis om die dag op ’n positiewe noot te begin. Die res van my dag sal maar bestaan uit afsprake en beplanning. Andri is ’n huisvrou en het die voorreg om by Miray te wees en deeltyds vir onderwys te studeer. Andri is lief om vir ons kos te maak en aandetes geniet ons almal saam om die tafel.” Kobus is vol lof vir sy vrou, wat hy beskryf as “deugsaam, ’n wonderlike ma en boonop pragtig”. Andri is mal oor Kobus se ondeunde sin vir humor.

’n Goeie span

Hulle pak uitdagings aan deur mekaar te ondersteun en goed te kommunikeer. “Ons maak ’n goeie span en besef waar elkeen se sterk en swak punte is. Ons het vroeg agtergekom die lewe kan wilde draaie met jou vat. Die jaar 2017 het sy uitdagings gehad, maar soos elke jaar deur sy seisoene gaan, gaan mens self ook deur wintertye. Ons is opgewonde oor die jaar wat voorlê.”

 

Kobus is ’n finansiële beplanner (CFP®) en ’n vennoot by Profkon. “Ons volg ’n spesifieke proses (ons kompas-proses) waar ons ’n holistiese oorsig van ons kliënte se finansiële situasie en toekomsplanne skep om ’n deeglike, doeltreffende en uitvoerbare finansiële plan vir hulle te ontwikkel. Uit die analise van ons kliënte se inligting, kyk ons na verskeie aspekte soos ’n testament, is daar ’n trust (is hy reg en voldoen hy aan die nuutste wetgewing), is hulle tevrede met hulle mediese fonds, ens. Ons spesialiseer hoofsaaklik in boedelbeplanning om die kostes by dood (soos kapitaalwinsbelasting en boedelbelasting) te beperk en belasting effektiewe beleggings beplanning.”

Sy wens vir 2018 is om Profkon uit te brei en as gesin wil hulle graag bietjie meer wegbreek en die mooi land verken. “Al is dit ook net om die draai waar ons kan kamp sonder enigiets om ons.”

 

Is jy al 'n lid van ons Facebook?

Read 2448 times
More in this category: Bederfdag: Leef voluit »

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.

booked.net
Watter kompetisie wil jy aan deelneem?