Makeover: Vriendin deur dik en dun
 

Makeover: Vriendin deur dik en dun

Adri Venter is ’n mensemens. Haar familie en vriende is haar hele lewe en sy verkies om naweke met haar geliefdes om ’n braaivleisvuur te chill.

Jy is ’n Noord-Kapenaar in murg en been. Jy is gebore op Warrenton, het ’n draai op Kuruman gemaak en is nou terug in Kimberley. Hoekom hou jy van die dorp?

Dis maar die wêreld waar ek grootgeword het, dit sal altyd deel van my lewe wees. Dis mý mense, maar ek sal tog graag eendag langs die see wil bly as ek so ’n geleentheid sou kry.

Familie is vir jou baie belangrik - vertel my meer van hulle

My ma en pa sal altyd die belangrikste mense in my lewe bly. Ek het ook drie sussies, Michelle, Chantelle en ’n laatlamsussie, Illandri. Sy is nou sewe en vir ons gesin ’n groot seën. Sy hou darem ons ouers nog op hulle tone!

Jy bly op die oomblik by jou niggie - is dit moeilik om saam met familie te bly?

Dit is soms moeilik, maar ons verstaan mekaar. Daar is soms slegte dae, maar die goeies maak op daarvoor.

Baklei julle soms? Waaroor?

Nee wat, ons baklei nie baie nie. ’n Mens besef gou ’n bakleiery is onnodig en mors net kosbare tyd.

Dra jy gereeld grimering?

Nee, nie eintlik nie. Daar is wel dae wat ek graag ’n bietjie moeite doen en mooi wil lyk vir ’n spesifieke geleentheid.

Is daar enige grimering waarsonder jy nie kan klaarkom nie?

Ek moet altyd my maskara by my hê, of ek dit nou of later gaan aanwend.

Hou jy die mode dop?

Ek probeer. Die modes verander egter so vinnig, vir oud en jonk. Dit is ook nie altyd almal se smaak nie, maar ek het al geleer almal hoef nie dieselfde te wees of te lyk nie. Ek kan soms ’n bietjie weird aantrek, maar ek hou daarvan om my eie stempel op iets af te druk. Ek sal by verskillende mense iets sien waarvan ek hou en dan alles deurmekaar gooi om my eie idee te vorm.

Van watter klere hou jy?

Ek is maar lief vir my skinny jeans. Ek is nogal vol nonsens met kleredrag, maar trek graag ’n mooi hemp aan en rond dit met ’n serp of baadjie af.

Hou jy daarvan om te shop?

Ek is nie regtig mal daaroor nie, maar as ek ’n kans kry, vaar ek die winkels in en sukkel my kêrel om my uit die winkels te kry. Hy hou niks daarvan om saam te gaan nie.

Wat is die duurste kledingstuk wat jy nog gekoop het?

My  hempies van Sissy Boy en Guess.

Dink jy 'n mens moet jou liggaamsbou in ag neem as jy klere koop?

Beslis. Ek dink elke vrou moet die regte tipe klere vir haar liggaamsbou koop. Ek dink ook mense koop baiekeer verkeerde groottes. Ek sal liewers ’n toppie in ’n groter nommer koop as wat dit te klein is.Klere kan baie onvleiend lyk en mens moet moeite doen om op jou beste te lyk.

Hou jy van modetydskrifte?

Dis altyd lekker om te sien wat beroemdes en bekendes aantrek. Dis nie altyd vleiend nie, maar celebrities kan met vreemde modes wegkom.

Watter kleur dink jy pas by jou?

Ek is gek oor pers. Ek weet nie of dit by my pas nie, maar sal dit nog steeds kies.

 

Van watter tipe haarstyl hou jy?

Ek wens ek kon my natuurlike haarkleur terugkry en dat ek dit nooit korter geknip het nie. ’n Mens kan net soveel meer met langer hare doen. Gelukkig groei dit weer.

Wie is jou rolmodel?

My ma sal altyd my rolmodel wees. Sy is iemand na wie ek opkyk en ek hoop dat ek eendag net so wys soos sy sal wees. My ma sal enigiets vir ons kinders doen.

Dit is Kersfees, die seisoen van gee. Wat beteken Kersfees vir jou?

Vir my beteken dit familietyd en laat my na my kinderdae verlang. Dis ’n tyd om saam met jou geliefdes te spandeer en Jesus se geboorte te vier. Een ding is egter seker - ek sal altyd ’n kind in my hart bly en geskenke wil hê!

Hoe spandeer julle die feestyd?

Die familie kom gewoonlik bymekaar en elkeen bring iets of daar word gebraai. Ek dink dis die lekkerste tyd van die jaar. – Ilette Coetzer


Baie dankie vir hare en grimering:
- HARE: Hannelie de Freitas van Classic Hair, 083-658-6633
- GRIMERING: Anelise van Zyl van Pretty Me, 072-458-4316
- PEDIKUUR: Anelise van Zyl van Pretty Me, 072-458-4316
- NAELS: Anelise van Zyl van Pretty Me, 072-458-4316
- KLEREDRAG EN STILERING: Joe Burger van Foschini, Diamond Pavillion, 053-802-4406

 

 

Is jy al 'n lid van ons Facebook?

Read 619 times

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.

booked.net
Watter kompetisie wil jy aan deelneem?