Ontmoet vir: Michael King
 

Ontmoet vir: Michael King

Min mense het die deursettingsvermoë om dekade in en dekade uit vir dieselfde werkgewer te werk. Na amper 32 jaar in diens van die Poskantoor is Michael King trots om te kan sê hy het vasgebyt.

Werksloopbaan begin

“Ek het die eerste Maandag nadat ek my skoolloopbaan voltooi het by die Poskantoor se sekuriteitsafdeling begin werk,” gesels Michael. “Daardie tyd het dit nog as die Pos- en Telekommunikasiewese bekend gestaan.” Michael se ma het in daardie stadium by die telegraafafdeling gewerk.

Skofte verg aanpassing

Nadat hy indiensopleiding in onder andere wapens ondergaan het, het hy in skofte gewerk om die Poskantoor se eiendom op te pas en te sorg dat ongemagtigde persone nie die perseel betree nie. “Dit was vir my moeilik om by die skofte aan te pas,” gesels Michael. “Wanneer kollegas siek was, was ek bereid om vir hulle in te staan, so sommige dae was baie lank.”

Omstandighede verander

Sedertdien het die Poskantoor ’n privaat sekuriteitsfirma aangestel en Michael is na ’n ander afdeling oorgeskuif. “My kollegas weet ek kan soms moeilik raak,” lag hy. “Maar ek is ’n harde werker. Ek ry nou posstukke en pakkies na ander poskantore in die Noord-Kaap,” verduidelik hy. “Die posstukke kom vanaf Johannesburg deur Bloemfontein na Kimberley. Dan moet ons dit weer na die kleiner dorpies in die Noord-Kaap versprei. Wanneer ons posstukke De Aar toe neem, ontmoet iemand, wat dit weer verder gaan aflewer, ons op Hopetown.”

Afwisseling hou werk interessant

Omdat die weeklikse ruiling van roetes vir afwisseling sorg, hou dit die werk vir Michael interessant. “Soms ry ek in De Aar se rigting. Soms ry ek Douglas toe. Ander weke ry ek Postmasburg of Hartswater toe. Wanneer ons die pos uit Kimberley aan hulle oorhandig, gee hulle weer op hulle beurt vir ons pos wat Kimberley toe moet gaan.” Met meer as 400 km wat Michael sommige dae aflê, is die pad vir hom die grootste uitdaging. “My werksdag begin 06:00 en om op die pad te wees, is soms moeilik. ’n Mens moet altyd vir die ander padgebruikers ook dink,” sê hy ernstig. Alhoewel hy so ver ry, is dit vir hom lekker om ander plekke te sien en mense van ander poskantore te ontmoet. “Ons werk nou wel nie naby mekaar nie, maar omdat ons almal vir die Poskantoor werk, is ons mos kollegas,” lag hy.

Voortbestaan bevraagteken

Toe die Poskantoor deur ’n moeilike periode gegaan het, het Michael dit self ook moeilik gevind. “Mense het my oor die voortbestaan van die Poskantoor uitgevra, maar ek help net met die aflewering. Ek is net ’n werker wat nie weet wat die mense bokant my besluit nie,” verduidelik hy. Met die hoeveelheid posstukke en pakkies wat aan die toeneem is, glo Michael vas dat die Poskantoor nog baie lank gaan voortbestaan. “Ek kan my nie ’n wêreld sonder die Poskantoor voorstel nie,” bieg hy. “Ons werk baie hard en probeer ons bes om die publiek se vertroue te wen.” Vir diegene wat aan die vooraand van ’n werksloopbaan staan, het Michael goeie raad: “Mens moet bereid wees om jouself te bewys en om op te offer,” sê hy.

Nie maklik nie

Die meeste mense moet werk vir wat hulle het en Michael is beslis ’n voorbeeld van so iemand. “Ons is vyf kinders en nadat my ouers geskei is toe ek 14 jaar oud was, was ek en my tweelingsuster vir ’n jaar in Kestell-kinderhuis. My pa is oorlede toe ek 19 jaar oud was,” vertel Michael. “Dit was vir my baie moeilik.” Deur al die uitdagings bly sy ma, Ja’tjie, sy steunpilaar en inspirasie. “Dit was oorspronklik haar idee dat ek by die Poskantoor vir werk aansoek doen,” sê hy trots.

Vrye tyd

Omdat Michael baie van mense hou, is die ondersteuning van sy familie vir hom baie belangrik. Wanneer hy nie by die werk is nie, hou hy daarvan om in die tuin te werk, te dans, te boks en vis te vang. Word hy oor die pad vorentoe gepols, glimlag hy half verleë. “Ek sal seker by die Poskantoor werk totdat ek aftree. Daar is min mense wat dit kan sê.” - Karin Muller

Foto's geneem deur Alta van Wyk | Picture You Photography

 

 

Is jy al 'n lid van ons Facebook?

Read 894 times

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.

booked.net
Watter kompetisie wil jy aan deelneem?