Leefstyl: Lewe met Alzheimersiekte
 

Leefstyl: Lewe met Alzheimersiekte

In Nicholas Sparks se rolprent,  The Notebook, word die stryd teen Alzheimersiekte amper romanties uitgebeeld. Die realiteit is egter nie so rooskleurig nie. Marius Meyer en Eleen de Klerk is twee Kimberliete wie se lewens ingrypend deur die siekte geraak is.

Jou geliefde verander voor jou oë

Alzheimer se siekte kom meestal by mense ouer as 60 voor, maar kan wel vroeër manifesteer. Dis ’n progressiewe siekte wat die brein stelselmatig aftakel. Dit het ’n enorme effek op familie en vriende en kan baie pynlik wees, veral as geliefdes jou nie meer herken nie. Marius Meyer het veertien jaar gelede sy pa aan Alzheimersiekte afgestaan. “Dis ongelooflik swaar om te sien hoe iemand vir wie jy lief is, voor jou oë verander.”

Matt Meyer en sy vrou, Magdalena, het met hul aftrede die boerdery vaarwel toegeroep en Uniondale toe getrek. Dit was vir albei ’n groot aanpassing. Matt het soms bietjie deurmekaar begin raak, maar Marius sê hulle het dit aanvanklik maar aan ouderdom toegeskryf. “My pa het dikwels so in die verte getuur en dan sommer gevra: "Wie ry daar teen die berg uit?"  Hy het mense en dinge begin sien wat nie werklik bestaan nie. Ons het nie van beter geweet nie. Die oumense het altyd gesê jy raak kens as jy so deurmekaar raak, maar dit was eintlik die begin van Alzheimersiekte.”

Versorging

Marius se ma het daarop aangedring om hom self te versorg. Sy het gesê sy sal haar kinders laat weet as sy hulle pa nie meer kon hanteer nie. “Toe ek in Maart 2003 ’n oproep van my ma kry om te kom help, het ek geweet dis die begin van die einde.” Matt was baie deurmekaar en het enige hulp geweier. Hy is egter in die siekeboeg van Bellinger Hof-ouetehuis op Oudtshoorn opgeneem. “Dit was erg om my pa so te sien. Hy was onbeheerbaar en het alles om hom probeer breek. Hy is die volgende oggend na die psigiatriese afgeling oorgeskuif, waar hy konstant gemonitor is. Die pasiënte daar word met ’n traliehek gekeer om op hulle eie rond te beweeg. My pa het heeltemal sy menswaardigheid verloor en baiekeer net op die vloer gesit en voor hom uitgestaar. Hy het soms ’n helder oomblik gehad en oor die kinders uitgevra. Dit het egter nie lank gehou nie. Na tien minute sou hy weer oogkontak verloor en in sy eie wêreld verdwyn.”

Familie ly

Marius sê hy dink dis amper erger vir die familie as die persoon wat self die siekte het. “Hulle weet later regtig nie meer wat om hulle aangaan of wie jy is nie. In die begin dink jy dit kan tog nie so erg wees nie, maar dis goed dat ons nie altyd weet wat vir ons voorlê nie.” Matt is kort daarna met prostaatkanker gediagnoseer en het in een van sy struwelings van die bed afgeval en sy heup gebreek. Hy het nooit werklik herstel nie en is einde Desember dieselfde jaar oorlede. “Dit was amper ’n verlossing vir ons wat agterbly. Dis ongelooflik swaar om jou geliefdes so te sien swaarkry.”

Versorgingseenheid bied uitkoms

Die Leefstyl-konsultant van Acacia-ouetehuis, Yolande Mitton, sê dis egter nie vir almal dieselfde nie. Eleen de Klerk se man, Apie, is tans in die demensie-afdeling van Acacia-ouetehuis. Hulle het destyds op Kleinplaas in die Daniëlskuil-distrik geboer. Sy sê sy het onraad vermoed toe Apie soms deurmekaar begin praat en vergeetagtig geraak het. Die boerdery het stelselmatig agteruit begin gaan en Eleen moes beheer oorneem. Die groot skuif na Rob Ferreira-aftreeoord, en later na Acacia-ouetehuis, het sy simptome amper oornag laat versleg. “Enige verandering, veral aan ’n persoon se onmiddellike omgewing, het ’n traumatiese uitwerking op Alzheimer-pasiënte.” Yolande sê dis egter nodig om pasiënte so vinnig moontlik in ’n versorgingseenheid te kry.” Dit was vir Eleen baie moeilik om daardie finale stap te neem, maar sy kon later nie meer fisies of emosioneel voltyds na sy behoeftes omsien nie.

 

“Ek het al emmers vol trane gehuil. Ons het al die jare so na aan mekaar geleef. Nou is ons fisies en emosioneel van mekaar geskei.” Eleen probeer egter elke ete saam met hom wees. “Dis egter ongelooflik swaar om hom so te sien. Ek is nog so lief vir hom en probeer alles in my vermoë om sy lewe vir hom so gemaklik as moontlik te maak.” Eleen sê sy sou hierdie uitputtende liefdestaak nie sonder haar ondersteuningsgroep en haar kinders kon doen nie. Daar is nie een aand wat sy of haar kinders nie by hom is nie. “Dis egter 'n pad wat ek vir niemand toewens nie.”

Simptome van Alzheimersiekte

- Vergeetagtigheid wat met die tyd vererger.
- Afname in logiese denke.
- Onvermoë om regte woord te vind.
- Swak konsentrasie.
- Probleme met besluitneming.
- Afname in spiervermoë (sukkel byvoorbeeld om knope vas te maak).
- Depressie.
- Gewigsverlies.
- Emosionele uitbarstings.
- Aggressie en onvoorspelbaarheid.
- Persoonlikheidsverandering.
- Vreemde gedrag, trek byvoorbeeld onderklere bo-oor klere aan.
- Vra dieselfde vraag oor en oor.
- Verdwaal in ’n bekende omgewing.
- Afskeep van persoonlike higiëne, weier byvoorbeeld om te bad of skoon klere aan te trek.

Yolande sê mens moet egter versigtig wees om ’n diagnose slegs op grond van enkele simptome te maak. Die siekte kan deur geheuetoetse en breinskanderings gediagnoseer word.

Maar wat kan jy as familie of vriend doen om ’n Alzheimer-lyer by te staan?

- Praat duidelik en stadig.
- Verduidelik vroegtydig aan die persoon wat besig is om met hom te gebeur.
- Doen dinge saam met hom of haar wat hulle geniet.
- Moedig basiese higiëne aan.
- Sit klere op die persoon se bed neer in die volgorde wat hy dit moet aantrek.
- Bly kalm en rustig wanneer die persoon aggressief raak. Aggressie van jou kant af kan die situasie vinnig vererger.
- Vermy sensitiewe onderwerpe.

Nasionale hulplyn: 0860 102 681
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. - Ilette Coetzer

Foto's geneem deur Alta van Wyk | Picture You Photography

 

 

 

 

Is jy al 'n lid van ons Facebook?

Read 1458 times

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.

booked.net
Watter kompetisie wil jy aan deelneem?