Leser: Liefde vir fotografie
 

Leser: Liefde vir fotografie

Corné Witteveen se passie vir fotografie is duidelik in haar foto’s sigbaar. Sy het ’n talent om mense, en veral diere en natuurtonele, op ’n ongewone wyse op kamera vas te lê.

Jy en Rudi is pas tien jaar getroud - hoekom werk julle huwelik?

Soos elke huwelik is alles nie altyd maanskyn en rose nie. Dis seker normaal. ’n Mens werk maar saam aan dinge en maak dit werk. Ons probeer om mekaar se gevoelens en besluite te respekteer. Ek en Rudi doen ook dinge saam, maar ek dink dis ook belangrik om dinge op jou eie te doen. Ek is egter die laaste persoon wat huweliksraad kan gee!

Jy was 'n kitsma op 'n baie jong ouderdom - hoe het jy dit hanteer?

Jong, nie altyd so goed nie. Ek dink omdat ek self nog ’n kind was, was dit met tye maar moeilik, maar ek het geweet dit was my keuse en ek moes dit maak werk. Ruben was gelukkig ’n baie maklike kind. Ons stry met tye wel seker maar soos ander ma’s en kinders, maar gelukkig sorteer ons dit gou uit.

Was dit vir jou moeilik om dissipline toe te pas?

My pa was baie streng en ek het Ruben met dieselfde waardes probeer grootmaak. Rudi het my van die begin af ondersteun en my die ruimte gegee om ten volle Ruben se ma te wees.

Jy is ’n professionele fotograaf. Hoe het jy in die bedryf beland?

’n Baie goeie vriend van Rudi, Melville Harding, het eendag vir my gesê ek het ’n oog vir fotografie en ek moet daaraan dink om dit my beroep te maak. Hy het vir my my eerste lesse in fotografie gegee. Eers was dit net ’n stokperdjie en soos my passie gegroei het, het ek verder geleer. Ek doen nou nog kursusse om op hoogte van die nuutste tendense te bly. Rudi het vir my ’n ateljee by ons huis aangebou en ek kyk nie vir een oomblik terug nie.

Jy is ook ’n groot diereliefhebber en mens kan dit sien in die foto's wat jy neem. Hou jy meer daarvan om diere as mense af te neem?

Diere en die natuur sal altyd my eerste keuse wees, maar hulle maak nie baie goeie betalende kliënte nie! Ek hou daarvan om mense (veral modelle) in my ateljee af te neem waar ek beheer oor die beligting het en my kreatiewe sy kan uitleef. Ek geniet dit baie om families af te neem. ’n Mens ontmoet die wonderlikste mense en dis so lekker om hulle persoonlikhede op kamera vas te vang.

Wat maak ’n goeie foto?

Die belangrikste element van ’n goeie foto is die vermoë van die foto om met die kyker te kommunikeer. Die foto moet deur die samestelling, beligting en onderwerp ’n storie vertel.

Enige raad vir beginners?

Moet nooit ophou leer nie. Leer iets van almal wat jou iets wil leer. Vat al daardie inligting en gebruik wat vir jóú werk. Kry jou eie styl en hou daarby. Glo daarin. As jy passievol is, sal jy dit kan laat werk.

Jy het uiteenlopende belangstellings - vertel my meer?

Sjoe, waar moet ek begin? Daar is min dinge wat ek nie doen nie - enigiets van kamp tot motorfiets ry. Ek hardloop so bietjie, maar nie te ernstig nie. Ek het wel al drie keer die Two Oceans-halfmarathon voltooi, maar lang afstande is nie vir my nie. Soms ry ek bergfiets. Die ergste wat ek nog gedoen het was Karoo 2 Coast (100 kilometer op ’n bergfiets). Ek is baie trots op myself dat ek dit klaargemaak het, maar ek het myself belowe nooit weer nie. My fiets se remme het in elk geval in die proses uitgebrand. Dit kom nou van bang wees vir afdraandes en spoed!

Wat is jou beste eienskap?

My omgee vir ander. Ek sal eerder iemand anders help voor ek myself help.

En jou slegste?

My slegste eienskap is definitief dat ek nie vertroue in myself en my vermoëns het nie.

Wat wil jy nog in jou lewe bereik?

Ek sal nie omgee om my kennis van fotografie aan ander wat wil leer, oor te dra nie. Al voel dit soms vir my of ek nog daagliks self leer. Ek het van kleins af gedroom om eendag vir ’n groot tydskrif modelfoto's te neem. Mens weet nooit watter draaie die lewe met jou stap nie. – Ilette Coetzer

Foto: Zoomink

 

 

Is jy al 'n lid van ons Facebook?

Read 1287 times

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.

booked.net
Watter kompetisie wil jy aan deelneem?