Resep: 'n Ou gunsteling
 

Resep: 'n Ou gunsteling

Tersia Bezuidenhout het haar liefde vir bak en brou by haar ma gekry. “Ek het my ma van kleins af in die kombuis dopgehou. Sy het my altyd ruimte gegee om te eksperimenteer en na hartelus te kook.”

Tersia beskou kosmaak as ’n manier om na ’n lang dag op kantoor te ontspan. “Daar is vir my niks lekkerder as om vir mense ’n lekker bord kos voor te sit nie. Ek is mal oor onthaal en floreer op komplimente, daarom ek gee ek altyd 120%.” En as sy nie haar gesin en vriende bederf nie, maak sy trou- en verjaarsdagkoeke. “Daar is niks so lekker as om stil te word en ’n blom uit suiker te vorm of ’n karakter van een of ander cartoon vir ’n verjaarsdagkoek te maak nie.” Tersia deel een van haar gunsteling-resepte met Glitter-lesers. Pampoenpoffers is ’n ou gunsteling en eenvoudig ’n treffer by enige vleisgereg. “My gesin en vriende is mal daaroor en as hulle die keuse gehad het, sou ek dit met elke geleentheid moes voorsit. Dis ook ’n randrekker. Met een butternut maak mens ’n bak vol heerlike karamelbedekte poffers wat sekerlik nie lank in die bak sal bly nie!”

Pampoenpoffers met karamelsous

Poffers

Bestanddele

3 k (750 ml) gaar botterskorsie, fyngemaak
2 eiers
5 ml sout
2 k (500 ml) bruismeel
15 ml bakpoeier
olie (om poffers in te braai)

Karamelsous

2 k (500 ml) suiker
1 k (250 ml) water
½ koppie (125 ml) melk
30 ml botter
5ml vanielje-essens
knypie sout
10 ml mielieblom (maizena)
15 ml mielieblom (metode verduidelik die tweede hoeveelheid)

Metode

Poffers: Kook pampoen tot sag en druk fyn - laat afkoel. Meng eiers, sout, bruismeel en bakpoeier goed met afgekoelde pampoen. Bak lepels vol beslag in warm, diep olie.

Karamelsous: Meng al die sousbestanddele en kook lekker deur (gebruik slegs 10 ml mielieblom). Gooi die helfte van die warm sous oor die warm, gebakte poffers en maak seker elke poffer het sous gekry. Gooi nou die tweede hoeveelheid mielieblom (15 ml met ’n bietjie melk aangemaak) by die ander helfte van die sous. Kook weer deur om verder te verdik tot ’n dikkerige sous. Gooi verdikte sous oor poffers. Bedien warm.

Wenk: Gooi genoeg olie in ’n dieperige pan sodat die poffers in die olie dryf. Die poffers draai vanself om wanneer hulle gereed is om om te draai. Moenie te veel poffers op een slag bak nie, sodat daar genoeg spasie vir hulle is om self om te draai. As jou poffertjie op die bodem van die pan vassit, maak hom net saggies met ’n vurk los. As jou poffertjie nie self wil omdraai nie, is jou beslag dalk te styf, maar dis nie doodsake nie. Help hom dan maar 'n bietjie om om te draai. Begin met jou olie lekker warm, maar maak die hitte bietjie minder sodra jy sien dat jou poffers te vining te bruin bak. – Ilette Coetzer

 

Is jy al 'n lid van ons Facebook?

Read 1194 times

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.

booked.net
Watter kompetisie wil jy aan deelneem?