Ken Mekaar: Bekker Pelser
 

Ken Mekaar: Bekker Pelser

Die afgelope paar jaar het al hoe meer mans begin om hulle snorre en baarde te laat groei en stileer soos die dra daarvan weer gewild geraak het.Die grootste invloed op hierdie tendens was die aanvang van die Movember-beweging wat mans van regoor die wêreld elke jaar aanmoedig om hulle snorre te laat groei tydens die maand van November ter bewusmaking van testikulêre kanker en ander gesondheidskwessies onder mans. Bekker Pelser is 'n Kimberliet wat spog met 'n deftige snor wat enige kaallip sal beskaam. Glitter het met hom gaan gesels oor die unieke manier hoe hy sy snor dra hoe hy dit in stand hou. Ook wou Glitter uitvind wie die man agter die snor is.

Hoe het jy in Kimberley beland?

Ek is oorspronklik van Thabazimbi in Limpopo. Na skool het ek medies geswot by die Universiteit van Pretoria waarna ek my twee huisdokterjare by Ngwelezana in Kwazulu-Natal voltooi het.Ek het in Kimberley beland omdat ek hier die kans gekry het om my gemeenskapsdiensjaar in algemene chirurgie by Kimberley-hospitaalkompleks te voltooi.

Min manne se snorre is soos joune gestileer. Hoe het dit gebeur dat jy hom so dra?

Ek het dit oorspronklik as 'n grap gedoen. My suster het dit gesien en met mening geëis dat ek dit dadelik afskeer. Natuurlik het dit my net aangespoor om aan te gaan daarmee. Vandaar af het dit net gegroei tot wat dit vandag is.

Wat voel jy kommunikeer jou snor aan ander mense?

Die meeste mense dink 'n snor maak jou nors voorkom, maar ek voel dit maak my meer toeganklik vir mense. Ek werk met mense wanneer hulle siek is en weerloos voel en my belewenis is dat wanneer die pasiënte my snor sien, hulle meer gemaklik voel as hulle sien dat ek 'n humorsin het, en nie alles te ernstig opneem nie. Ek glo hoekom jy iets doen is net so belangrik as hoe jy dit doen.

Hoe reageer mense buite die hospitaal wanneer hulle jou snor sien?

Die mees algemene reaksie wat ek kry, is mense wat glimlag, of selfs hardop lag. Dit is vir my lekker om te dink dat ek vir 'n paar mense elke dag 'n bietjie vermaak kan verskaf, al is dit hoe vlietend.

Wat verg dit om jou snor te onderhou?

Dit moet elke 2 - 3 dae gewas word. Ek gebruik texture clay om dit te vorm en laat dit natuurlik droog word.

Siende dat 'n snor eie is aan manwees, wat sou jy sê is vir jou die essensiële van manwees?

Om 'n manjifieke snor te hê, natuurlik!.As ek iets moet uitsonder, sou dit gaan oor 'n sin van verantwoordelikheid - teenoor jou familie, die gemeenskap en laaste maar nie die minste nie, teenoor jouself. Die boodskap van Movember - dat mans moet aandag gee aan hulle eie gesondheid - is baie, baie nodig.

Hoe sal jy jou jaar in Kimberley beskryf?

Die afstand van vriende en familie af is 'n groot uitdaging. Mettertyd het ek nuwe vriende gemaak en geleer om die vele voordele - vriendelike mense, skoon lug en tekort aan oggendverkeer - te waardeer en te geniet. Ek het ook professioneel en persoonlik meer gegroei as wat ek ooit sou kon verwag.

Waaroor is jy passievol?

Ek is uiters passievol oor my werk. Chirurgie is my droomberoep en ek dank God elke dag dat ek die voorreg het om in die uitstekende departement in KHC te werk. Buiten my werk is ek mal oor die natuur en buitelug. Ek stel belang in geskiedenis en wetenskap oor die algemeen en probeer my kennis sover as moontlik uitbrei. Vir ontspanning lees ek graag en speel op die rekenaar.

Wat is jou toekomsplanne?

Ek het aansoek gedoen vir 'n pos in algemene chirurgie by verskeie akademiese hospitale. Ek hoop om een van die dae te begin spesialiseer. - Dupie Janse van Rensburg.

 

Foto's geneem deur Alta van Wyk | Picture You Photography

 

 

 

Is jy al 'n lid van ons Facebook?

Read 1192 times

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.

booked.net
Watter kompetisie wil jy aan deelneem?