Inspirasie: Kinders en pornografie
 

Inspirasie: Kinders en pornografie

Pornografie kan 'n verwoestende effek op verhoudings hê. Tot onlangs was hierdie kwaad beperk tot volwassenes, maar vanweë die ontwikkeling van slimfone het dit toegang gekry tot selfs jong kinders se lewens. Willie Henning is die afgelope paar jaar besig om ouers en kinders in Kimberley te leer hoe hulle hierdie kwaad kan beveg. Glitter het met hom gesels.

Vertel ons meer van jouself

Ek is Willie Henning, 'n oud-onderwyser, funksionele terapeut en life coach wat passievol is oor kinders en die toekoms van ons land. Ek is tans 'n trainer vir Maths Centre, ek help skole se onderwysers en leerders om hul wiskunde- en wetenskapvaardighede te verbeter. In my vrye tyd help ek leerders met ekstra klasse in wiskunde en ook met vak- en beroepskeuses en beter studievaardighede.

Hoe het dit gebeur dat jy oor pornografie by skole praat?

Ek het nog altyd 'n passie vir die jeug gehad en het al baie met kinders gewerk. Ouers vind dit soms moeilik om met hul kinders oor sulke sensitiewe onderwerpe te praat. Ek het vyf jaar gelede begin om die waardegedrewe stelsels by skole te begin implementeer. Soos die jare verbygegaan het, het skole my gekontak as daar 'n behoefte was aan motivering, die aanleer van studievaardighede of praatjies oor sensitiewe onderwerpe.

Waar sou jy sê kom jou passie vandaan om kinders en ouers te leer oor die invloed van pornografie?

Aangesien pornografie uiters skadelik is, is dit vir my baie belangrik om die volgende generasie toe te rus sodat hulle lewens nie daardeur vernietig word nie. Ek glo dat wanneer mense ingelig is oor die gevare van pornografie, dit hulle die emosionele, fisiese-en psigiese gevolge daarvan kan spaar. Ek glo ook dat daar hoop gekommunikeer moet word aan gesinne wat reeds daardeur geraak is.

Wat is die belangrikste ding wat ouers moet weet oor hulle kinders se kwesbaarheid vir pornografie?

Ons as ouers dink ons kinders sal eers ná puberteit sekere seksuele gevoelens begin ondervind. Die realiteit is dat talle jong kinders (voor puberteit) reeds seksueel geprikkel word deur blootstelling aan TV-programme, tydskrifte en advertensies wat seksualiteit as lok-aas gebruik om sekere produkte te verkoop. Moet dus nooit blind wees vir die moontlikheid dat jou kind daaraan blootgestel kan wees nie.

Hoe sal ouers weet as hulle kinders aan pornografie blootgestel is?

Kinders wat na pornografie kyk, steek dikwels hulle gewoonte weg omdat hul skaam is en skuldig voel. Hulle is geheimsinnig en meestal verander hulle alledaagse gewoontes. Hulle kan dus die neiging toon om hulleself meer te onttrek en af te sonder. Verder kan hulle aggressief en angstig word as gevolg van skuldgevoelens. Hulle raak gewoonlik baie meer besitlik oor hul selfone, dit lê nie meer rond nie en hulle skep nuwe toegangskodes.

Wat staan ouers te doen wanneer hulle agterkom dat hulle kinders aan pornografie blootgestel is?

Bly kalm, moenie oorreageer of baklei nie. Vermy ten alle kostes om bangmaaktegnieke te gebruik, dit sal hul allermins keer om na pornografie te kyk of om seksuele verhoudings te hê. Dit help ook nie om hulle slegs te verbied om hul rekenaars/ selfone te gebruik nie, aangesien hulle maats nog selfone en rekenaars het. Sulke optredes veroorsaak net dat jou kind meer kreatief met die waarheid gaan omgaan en dit gaan onnodige spanning in die gesin veroorsaak. Die beste is om openlik oor die saak met jou kinders te praat. Dis nie nodig om dadelik met seksvoorligting weg te val nie, maar praat met hulle oor verhoudings, liefde en selfwaarde. Dis belangrik om nie net die Bybelse waardes met hulle te bespreek nie, maar hulle ook te leer om nie liefde en seks te verwar nie. Die grootste probleem vandag is dat ouers nie met hul kinders praat nie. Baie ouers dink geld en “goeters” maak kinders gelukkig, maar die teendeel is bewys: kinders kort meer aandag en minder aardse goed, aangesien 'n gebrek aan aandag hulle gewoonlik laat afdwaal na alternatiewe dinge soos pornografie en seksuele verhoudings.

Op watter maniere kan ouers hulle kinders teen pornografie beskerm?

Ek dink daar is baie maniere hoe ouers pro-aktief kan wees om hulle kinders teen pornografie te beskerm. Die volgende is goeie beginpunte:

1. Wees 'n voorbeeld vir jou kind. As jy na pornografie kyk, kan jy doodseker wees jou kind gaan dit ook doen.
2. Maak seker jou kind het 'n gesonde siening van die liefde en die huwelik. Indien daar gereeld struweling in die huwelik is, gaan sien 'n professionele persoon en sorteer dinge uit, aangesien dit tot baie negatiewe gevolge vir die kinders kan lei, soos skolastiese probleme, ens.
3. Wees bewus daarvan dat kinders nuuskierig is. Maak dus seker dat jy gereeld openlike gesprekke met jou kind het. Maak dit maklik vir jou kind om oor enigiets met jou te praat. (Die groot geheim is om nooit te oorreageer op wat hulle jou vertel nie.)
4. Wees bedag op gedrag wat verander en moenie paranoïes raak nie.
5. Bid vir jou kind en onthou dat wanneer die Heilige Gees kinders help om ander te sien soos wat Christus hulle sien – heilig, waardevol, en geliefd - is dit waar ons kinders werklik leer wat “waarde” beteken. As die waardebesef  tot hul deurdring, sal dit hulle help om op te staan teen dinge soos pornografie. - Dupie Janse van Rensburg

 

Foto geneem deur Alta van Wyk | Picture You Photography

 

 

 

 

Is jy al 'n lid van ons Facebook?

Read 773 times

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.

booked.net
Watter kompetisie wil jy aan deelneem?