Sport: Kimberley-tennisster
 

Sport: Kimberley-tennisster

Die 13-jarige Marjuzél Venter het vir die tweede jaar in ’n ry ’n plek in die SA 0/13-tennisspan losgeslaan. Hoewel sy erken dit verg baie, is dit vir haar ’n enorme eer om weer eens hierdie span te haal.

Harde werk en opoffering

“Dit is baie harde werk,” gesels Marjuzél. “Ek het nog nooit regtig vakansie gehad nie, want elke vakansie neem ek aan toernooie deel.” Sy voeg by sy het egter baie deursettingsvermoë geleer en kan getuig dat aanhouers inderdaad wen. “Dit het my aangespoor om nog harder te werk. Ek sal graag weer in die hoërskool vir hierdie span gekies wil word.” Volgens Marjuzél is dit baie belangrik om hard en gereeld te oefen en altyd op jou doelwit te fokus. Sy oefen drie maal per week en neem naweke en vakansies aan toernooie regoor die land deel.

In haar bloed

“Tennis was maar nog altyd deel van ons gesin,” vertel Marjuzél, wat op die rype ouderdom van drie met formele tennisafrigting begin het. “Ek het eers by Newton geoefen toe ek in pre-primêr was en toe later by tannie Wilmi Delport van Lapesa. Sy het ’n ware liefde vir die sport by my gekweek. My broer, MC is ook ’n tennisspeler en ek onthou ek was maar altyd langs die baan as hy geoefen het of wedstryde gespeel het. Reeds toe al kon ek nie wag om ook te speel nie. Newton het my ook baie geleenthede gebied om my talent te kon uitleef.”

Net jy

“Tennis is ’n individuele sport,” sê Marjuzél. “Die oomblik as jy op die baan stap, is dit net jy – jy wat besluite moet neem oor hoe jy die wedstryd gaan hanteer. Daar is niemand saam met jou wat jou kan help nie.” Hoewel elke wedstryd vir haar ’n uitdaging is, hou Marjuzél vol sy leer elke keer iets nuuts oor haarself. “Tennis leer mens om vas te byt en om te veg vir wat jy wil hê en ook om dit te bereik.” Vir haar is Roger Federer ’n goeie rolmodel en sy geniet dit om na sy wedstryde te kyk. “Jy weet nooit of hy voorloop of agter is nie. Sy lyftaal is altyd positief en gefokus. Ek bewonder hom hiervoor, want mens kan soms gou moedeloos raak en nie almal kan dit goed wegsteek nie.” Marjuzél lig selfdissipline as ’n belangrike eienskap vir elke tennisspeler uit. “Jy moet heeltyd gefokus bly en die balans kan hou. Op die baan is jy jou eie afrigter en spanmaat. Jy moet kan kalm bly in enige situasie.”

Wees lief vir tennis

Volgens Marjuzél is die belangrikste ding wat coach Wilmi haar geleer het om lief te wees vir tennis. “Ek geniet elke oomblik daarvan. Coach Wilmi het my geleer dat elke wedstryd soos ’n gelukspakkie is – jy weet nooit wat jy kry nie. Jy moet jouself afrig in die wedstryd. As iets nie werk nie, maak jy ’n plan.” Zanri Kotzé

 

Foto's geneem deur Alta van Wyk | Picture You Photography

 

 

 

 

Is jy al 'n lid van ons Facebook?

Read 1353 times
More in this category: Resep: 'n Ou gunsteling »

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.

booked.net
Watter kompetisie wil jy aan deelneem?