Jou Storie: Om vir kos op die tafel te sorg
 

Jou Storie: Om vir kos op die tafel te sorg

Daar is sommige dinge in ons land wat meer aan die orde van die dag is as in ander lande. Die realiteit is dat mense hier gereeld hulle werk verloor. Suid-Afrika se skrikwekkende werkloosheidsyfer styg jaarliks. Wat doen jy as jy deel van hierdie statistiek is en skielik sonder inkomste is? 

“Mense sê maklik daar is nie werk nie,” gesels Willie van Deventer waar hy al vir meer as tien jaar motors by die Spur-sentrum op die Kaapstad-pad oppas. “Dit is seker in ’n mate waar, maar as jy bereid is om vroeg op te staan en hard te werk, kan jy vir jouself ’n inkomste bymekaarskraap.”

Lewe neem ’n wending

Willie het in Bellville grootgeword. Sy lewe het ’n wending geneem toe hy op 16-jarige ouderdom die skool verlaat het om sy ouers finansieel te help. “Ek het daardie tyd as portier by die Groote Schuur-hospitaal begin werk. Dit was vir my heerlik. Ek het met baie verskillende mense gewerk en goeie menseverhoudings aangeleer.” Willie het tot hoofportier gevorder en is daarna getroud. “Ek het ’n oorplasing na Universitas in Bloemfontein gevra. Wat ek nie daardie tyd besef het nie, is dat ek eerder moes bly waar ek was,” sê hy.

Nadat hy skielik baie langer ure vir minder geld moes werk, het Willie ’n skeidingspakket aanvaar. Sy huis is afbetaal, maar na ’n paar maande het hy die huis verkoop. “Ek kon nie werk kry nie en ons het op Malmesbury by vriende gaan bly,” vertel hy. “Dit plaas geweldig baie druk op ’n huwelik.”

’n Nuwe begin

Uiteindelik het hulle besluit om ’n nuwe begin in Welkom te maak, maar werk was skaarser as ooit. “Op ’n dag het ek besluit dat ’n mens nie gemaak is om so aan te ploeter nie,” sê hy. “Iewers moet jy ’n plan kan maak.” Willie het ’n klein opvoubare braaier aangeskaf en ses dae van die week worsrolletjies by ’n besigheidsentrum verkoop. “Dit het so goed gegaan dat ek later vaste bestellings by omliggende winkels gekry het en ook hamburgers en sosaties verkoop het. Ek het selfs ’n groter braaier gekoop,” lag hy.

Vaste betrekking gekry

Hy was ongeveer ’n jaar met die worsrolletjies besig toe hy onverwags werk in die sekuriteitsbedryf kry. “Dit was vir my wonderlik om weer ’n vaste werk met ’n vaste inkomste te kon hê,” sê hy. Kort daarna is hy egter Lichtenburg toe verplaas en het besluit hy gaan eers sy voete vind voordat sy gesin uit Welkom by hom aansluit. Ses maande later het hy sy gesin laat kom. “Ons het skaars met die nuwe hoofstuk in ons lewe begin, toe ek weens ekonomiese redes afbetaal is.”

Moes self ’n plan maak

In 2000 het Willie en sy gesin Kimberley toe verhuis en by familie gebly. Weer het hy besef dat hy self moet inspring om ’n inkomste te verdien. “Ek het motors by een van die winkelsentrums begin oppas en oorgeskuif hiernatoe toe die nuwe Spur gebou is,” vertel hy. Sedertdien is Willie op sy pos. Nie net het hy vier kinders deur die skool gehelp nie, hy het, letterlik en figuurlik, groot drome vir die toekoms. “Ek het gedroom ek gaan saam met iemand in Jeffreysbaai ’n besigheid begin,” verduidelik Willie. “Totdat daardie dag aanbreek, het ek vrede in my hart hier in die parkeerterrein.”

Mense sien neer

Soos met enige beroep beleef Willie ook dae wanneer hy sy rugsak wil pak en die pad wil vat. “Mense sien maklik neer op motorwagte,” gesels hy ernstig. “Dit is asof hulle nie besef dat omstandighede ook vir hulle net sowel anders kon wees nie.” Wat Willie die meeste frustreer, is as mense uit die staanspoor sê dat hulle nie geld by hulle het nie. “Ons wil graag ’n diens lewer. Ons bedel nie. Nog ’n ding wat mense maklik sê, is dat hulle net hulle bankkaarte by hulle het. Wanneer hulle hulle rekening betaal, kan hulle vra dat daar ’n ekstra geldjie bygesit word om vir hulle in kleingeld te gee.” 

Tevrede

Ten spyte van sy trots wat hy in sy sak moet steek, is Willie heeltemal tevrede met dit wat hy bereik het. “Die lewe loop soms vreemde draaie met ’n mens,” gesels hy. “Ons neem verkeerde besluite en besef dit eers agterna.”

Nie kieskeurig nie

Wat van mense wat hulleself in dieselfde situasie as hy bevind? Vir hulle het Willie die grootste aanmoediging. “Jy mag nie opgee nie,” sê hy streng. “Jy moet bereid wees om hard te werk en enigiets te doen. As jy regtig in ’n verknorsing sit, kan jy nie kieskeurig wees nie. Die Here het ’n doel met ons almal en gebruik ons om ’n verskil in die wêreld te maak – al is dit met iets nietigs soos om motors op te pas.” – Karin Muller

 

Is jy al 'n lid van ons Facebook?

Read 2686 times

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.

booked.net
Watter kompetisie wil jy aan deelneem?