Tuin: Vrou met vele fasette
 

Tuin: Vrou met vele fasette

Om ’n passie vir iets te hê, is slegs ’n deel van sukses. Ander fasette is net so belangrik. Kennis. Harde werk.

Juliet van der Merwe besit al hierdie eienskappe om van ’n tuin iets besonders te maak.

Stokperdjie

“Tuinmaak het eers later in my lewe as ’n stokperdjie begin. Mense het positief op my idees reageer en ek het begin wonder of ek nie dalk ’n gevoel daarvoor het nie,” sê Juliet.

 

Kimberley se klimaat verskil

Nadat sy en haar man, Roelf, se lewens ’n draai deur Vryburg en Hartswater gemaak het, het hulle tien jaar in die Kaap deurgebring. Noudat hulle twee jaar in Kimberley is, besef hulle weereens wat die ooreenkomste en verskille tussen die plekke is. “Daar is tog sekere beperkings op die plante wat ’n mens hier kan plant,” verduidelik Juliet. “Die uiterstes in klimaat het ’n groot invloed en die water maak ’n verskil.” 

Roostuin en boorgatwater

Juliet werfskaf ewe fluks in haar en haar dogter, Petra, se tuine. Hulle harte was dus stukkend toe Petra se roostuin ’n paar maande gelede onverwags tekens van agteruitgang begin toon het. Juliet se eie roostuin het gesond daaruit gesien. “Die enigste verskil was die water wat hulle gekry het,” vertel Juliet. Die boorgatwater is getoets en as die skuldige uitgewys. “In leketaal het dit die 50 roosbome versmoor. Daar is nou filters geïnstalleer, maar ons is steeds skrikkerig om weer ’n kans met ’n roostuin te waag.”

Pragtige handewerk

Roelf werskaf nie net ywerig saam met Juliet in die grond nie; hy is ook haar getroue nutsman. Alhoewel sy regterskouer nie meer wil saamwerk nie, staan sy hande vir niks verkeerd nie. “Mens kan hom enigiets vra of enige prentjie wys en hy maak dit,” vertel Juliet trots. “Die pragtige fontein en draadwerk in Petra se tuin is voorbeelde van sy liefdevolle handewerk.”


Terug Volgende »

Is jy al 'n lid van ons Facebook?

Read 2087 times

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.

booked.net
Watter kompetisie wil jy aan deelneem?