Tegnologie: Jou foon, die opsitkers
 

Tegnologie: Jou foon, die opsitkers

Om enkellopend te wees het sy voordele en nadele, maar een of ander tyd begin mis jy daai spesiale persoon wanneer jy die liefdesliedjie oor die radio hoor. Tussen waar jy nou is en die liefde van jou lewe, lê daar ’n berg van ander enkellopendes wat ook opsoek is na hulle meneer of mevrou reg.

Waar op dees aarde begin jy soek na jou “die een”?

Ontmoet, spandeer tyd

Jy kan – tradisioneel – jou maat deur vriende, by die werk, gedeelde belangstellings of by sosiale geleenthede ontmoet. Die minder positiewe deel hiervan, is dit kan soms ’n stadige, senutergende proses wees. Jy is dalk nie heeltemal so entoesiasties oor die ander persoon se nuutste stokperdjie nie, sy skoene, haar hare, sy bo-arms of haar manier van praat, nie. Jy moet dus eers die persoon ontmoet, dan moet die persoon voldoen aan al jou standaarde en hoe vind jy dit uit? Deur tyd met hulle te spandeer. Tyd wat jy nie weer kan terugkry nie. So hoe soek jy meer effektief in vandag se tyd?

Soos met meeste dinge, is daar natuurlik: apps!

Die apps wat hier bespreek word het dieselfde doel voor oë, maar verskillende maniere om daarby uit te kom. Die apps verteenwoordig uiteenlopende voorkeure van maat soek en moet daarom ook so gebruik word om teleurstelling te voorkom. So wanneer jy dit oorweeg om een te gebruik maak seker dit pas in by jou persoonlikheid. En pas op vir mense wat voorgee hulle is iets wat hulle nie is nie!

Tinder

Tinder is die app wat die minste frilletjies aanhet, so as jy jou van spoed sal hierdie app dalk meer binne jou smaak val. Die rede hoekom Tinder so vinnig werk, is omdat dit gebou is met die idee dat as twee mense mekaar aantreklik vind hulle meer geneig sal wees om belang te stel in ’n verhouding met mekaar. Gevolglik is die prinsiep eenvoudig. Wanneer jy die app oopmaak word jy begroet met slegs die profielfoto’s van potensiële maats. Al wat jy hoef te doen is om met jou duim die foto’s na links of regs van die skerm af te vee – links vir onaantreklik en regs vir aantreklik. As een van die persone wat jy aantreklik gemerk het jou ook merk, sal die app jou daarvan in kennis stel en dit moontlik maak vir julle om boodskappe aan mekaar te stuur.

Elite Singles

Elite Singles se invalshoek is kwalifikasies en persoonlikheid. Wanneer jy jou profiel opstel word jy gevra om jou lys van akademiese kwalifikasies aan te dui en ook die spesifieke vakrigtings waarin jy hulle verwerf het. Daarna gee die app vir jou ’n psigometriese persoonlikheidstoets om te voltooi wat in die keuringsproses van moontlike pasmaats gebruik word. Na die hele proses stuur die app vir jou drie tot sewe profiele ’n dag as moontlike pasmaats. Die app spog met meer as 65,000 lede waarvan 82% universiteitskwalifikasies het.

Scout

Scout is nie net ’n dating app nie, maar van die app se kernfunksies maak dat dit goed sal werk vir ’n sekere tipe verbruiker. Scout laat jou mense ontmoet. Hierdie ontmoetings word gedryf deur die gebruik van jou foon se GPS. Dit wys jou wie in jou omgewing woon, wat moontlik by jou sal pas. As jy byvoorbeeld van Kimberley Bloemfontein toe ry en jy maak die app oop, sal slegs mense wat in Bloemfontein aktief is en naby is aan jou verskyn. As jy wil kan jy kontak maak met die persoon wat naby is deur ’n boodskap te stuur om dalk ’n afspraak te maak. Op die profiel van die persoon kan jy basiese informasie kry soos belangstellings, liggaamsbou, ouderdom ensovoorts. Die app het ’n hele paar ander funksies wat dit uniek maak – soos dat wanneer jy jou foon skud jy outomaties met ’n persoon in jou omgewing kan gesels. Die kern van die diens is rondom ligging en persoonlike ontmoetings. - Duplessis Janse van Rensburg

Het jy al ’n dating app gebruik om mense te ontmoet? Lewer jou kommentaar hier onder. 

Is jy al 'n lid van ons Facebook?

Read 889 times

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.

booked.net
Watter kompetisie wil jy aan deelneem?