Dekor: Huis propvol stories - kom loer in
 

Dekor: Huis propvol stories - kom loer in

Francois en Jolize Wiid se huis op Klein Magersfontein is sinoniem met opregte plattelandse hartlikheid.

Jolize se passie vir mooimaak is van die voordeur af duidelik sigbaar. Sy het ’n liefde vir oudhede en daar word nie sommer weggegooi nie. Jolize het destyds by die Victoria Toma-ontwerpskool in Bloemfontein studeer. Sy was bekend vir haar ongelooflike trou- en matriekafskeidsrokke, maar nadat rumatoïede artritis vroeër by haar gediagnoseer is, het sy haar naaldwerk afgeskaal. Jolize laat egter nie dat die siekte haar onderkry nie en is altyd besig met iets skeppends. Haar nuutste stokperdjie is skilder en haar huis weerspieël haar jongste passie. Sy gebruik graag engele in haar skilderye om haar aan die aardse engele te herinner wat God op haar pad gestuur het.

Met die intrapslag is dit duidelik híér word geleef en gekuier. Meeste van die oudhede kom van haar familie, vriende en veilings. Jolize hou van hout en warmte en glo elke meubelstuk en dekorartikel het ’n storie om te vertel. Die plaas self is propvol geskiedenis. Die plaashuis was tydens die Boereoorlog deel van ’n hospitaal. Francois het destyds ’n pomp vir die spilpunte opgesit en met die grawery op ’n geweer met kolf en al afgekom. Dié het nou ’n ereplek in die sitkamer gekry. Hul seun, Franco, het self al ’n paar patroondoppies in loopgrawe opgetel. Jolize sê sy het met oudhede grootgeword, wat ’n liefde by haar ontwikkel het.

Die skaal in die kombuis kom van Francois se oupa van Plooysburg, terwyl ’n vriendin vir haar verskeie koperartikels gegee het. ’n Groot Aga-stoof van Prieska se wêreld pronk in die kombuis en herinner aan vervloeë dae. Die gang is vol ou foto’s van familie en Ouma se hoede en poppe het staanplek in die spaarkamer gekry. Elke gehekelde kussing, tapisserie, staanhorlosie en uitstalkas vorm deel van dié unieke versamelhuis vol sentiment.-  Ilette Coetzer

Kyk vir nog foto's:


Terug Volgende »

Is jy al 'n lid van ons Facebook?

Read 1270 times

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.

booked.net
Watter kompetisie wil jy aan deelneem?