Leefstyl: Die speletjiesman
 

Leefstyl: Die speletjiesman

Die kans is goed dat jy al êrens in jou lewe speletjies soos monopoly, scrabble, pictionary en rummikub saam met vriende of familie gespeel het. Dalk het jy goeie herinneringe daaraan; miskien speel jy vandag nog van daardie speletjies. Gewoonlik word sulke speletjies uitgehaal as dit reën of as daar niks anders is om te doen nie, amper as ’n laaste opsie.

In Kimberley is daar ’n man wat elke aand van die week die afgelope 15 jaar ’n speletjiesaand by sy huis hou, en elke aand daag 4–12 twenty somethings op om saam te speel. Hy is Kimberley se eie game maker. Duplessis, Glitter se joernalis, het gaan kuier by die game maker, of Moocher, soos meeste mense hom ken, en sy vrou Lenie, om uit te vind wat presies agter die passie vir bordspeletjies steek...

Waar kom dit vandaan?

My afspraak met hulle is net voor twaalf op ’n bedrywige Maandagoggend. My eerste vraag is waar kom die passie vir bordspeletjies vandaan? Voor Moocher kan antwoord, vertel Lenie dat haar man al as kind en jongman daarvan gehou het om aan bordspeletjies deel te neem en selfs van sy eie probeer maak het. Moocher knik sy kop instemmend en sê: “Dit is die kombinasie van strategie, taktiek en die samesyn met mense wat my na bordspeletjies aantrek.” Ek is nuuskierig oor waar dié game maker se storie met speletjies begin het en vra hom wanneer die gogga hom gebyt het.

Kry aftrek

“Dit het alles begin toe vriende van ons op Warrenton ons genooi het om die speletjie Settlers of Catan by hulle te kom speel,” sê Moocher na hy ’n ruk gedink het. “Ek het dit so geniet dat ek dit sommer die volgende dag vir myself gaan koop het,” vertel hy. Dit is een ding om ’n speletjie te koop, maar ek vra hom hoe het dit gebeur dat hulle elke aand speel en dat dit soveel aftrek kry by jong volwassenes? Moocher vertel dat hy aanvanklik eers familie genooi het om te speel en dat van die familie naderhand hulle vriende gebring het en dié het weer hulle vriende genooi en so het dit maar gegroei.

My laaste vraag aan Moocher is wat volgens hom ’n gemiddelde bordspeletjie onderskei van ’n buitengewone een. Hy antwoord sonder om te aarsel: “Vir my maak ’n buitengewone bordspeletjie so min moontlik staat op geluk. Wanneer jy geluk uithaal, bly verbeelding, kreatiwiteit en interaksie sentraal, en dít,” sê hy, met groot passie in sy stem, “is wat ’n bordspeletjie maak”.

Dis ontspannend 

Nadat ek weg is by Moocher en Lenie, het ek met ’n paar van die mense wat gereeld saam speel gaan gesels om te hoor wat hulle na bordspeletjies trek.

Theo Theron is 21 en werk as jeugleier by ’n kerk op die dorp. Hy speel meer as vier keer ’n week by Moocher se huis, wat beteken hy is een van die gereelde spelers. Ek vra hom waarom hy van die tydverdryf hou en hoekom hy ander mense sal aanmoedig om dit te probeer. “Ek hou van bordspeletjies omdat dit ’n sosiale platform is waar ek kan ontspan en tegelykertyd my kreatiewe kant kan oefen. Ek dink bordspeletjies is ’n beter opsie as byvoorbeeld ’n fliek. Almal wat daaraan deelneem, is teenwoordig en plaas hulle fokus op mekaar.”

Verbeter jou konsentrasievlakke

Alberto is ’n bestuurder by die Fragrance Boutique in Pavillion Mall en nes Theo is hierdie 25-jarige mal oor bordspeletjies by Moocher-hulle. Alberto se liefde vir bordspeletjies lê daarin dat hy glo dit verbeter sy konsentrasievlakke en omdat hy hou daarvan om tyd met sy vriende op dié manier te spandeer. Hy raai ander aan om dit te probeer, bloot omdat dit pret is en soos hy dit stel “jy bietjie kan uitkom tussen mense.” 

Goeie uitdaging 

Kevin is ’n onderwyser by St. Patrick’s Christian Brothers College waar hy skoolgee vir die graad 7’s tot 12’s. Hy hou weer van die kameraadskap tussen vriende en die uitdagende aspek van die speletjies. Hy sê baie mense dink bordspeletjies is net op kinders gemik, maar daar is eintlik ’n hele paar soorte wat juis vir volwassenes ’n goeie uitdaging kan bied.

Dalk is dit tyd om soos Moocher ’n  paar vriende oor te nooi en die bordspeletjies in die kas af te stof. Miskien bring hulle nuwe uitdagings en goeie tye mee, solank jy net nie ’n dobbelsteen gebruik nie, want die game maker sal weet. - Duplessis Janse van Rensburg

Is jy al 'n lid van ons Facebook?

Read 1150 times

Leave a comment

Make sure you enter all the required information, indicated by an asterisk (*). HTML code is not allowed.

booked.net
Watter kompetisie wil jy aan deelneem?